Watter soort vriend is jy ? (5)

WATTER SOORT VRIEND IS JY? (5)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

In ‘n vorige dorp waar ons vir die Here gewerk het, was daar ‘n vrou wat aan drank verslaaf was, wat van tyd tot tyd na ons dienste gekom het. Ek het haar besoek en probeer help. Sy het vertel, hoedat haar seun homself geskiet het. Maar by die begrafnisdiens het die leraar i.p.v. te troos haar verwyt en gewys op al haar foute wat sy as moeder gemaak het. (Dis soos sy dit ervaar het.) Ek sal nooit haar woorde vergeet nie: “Ek het gesmag na vertroosting, maar dominee … het my soos ‘n wildsbokkie vanaf die kansel gejag.”

Kyk net na die treffende vertaling in die Message van Job 6:14 – “When desperate people give up on God Almighty, their friends, at least, should stick with them.” Selfs al dien ons vriende nie meer die Here nie, dan moet ek en jy hulle nog steeds bystaan en nie verwerp in hul uur van donkerte nie! Die Here verwag dit van ons.

Ons kan by die padwedloop atlete gaan leer hoe staan jy ‘n ander by:

• By die laaste km van die halfmarathon by Riebeek Kasteel (2010) sien ek hoe ‘n man aan die dame voor hom se T-hempie vashou en trek sy hom die laaste end. (Weet nie of dit wettig is nie.)
• ‘n Vriend wat vir die eerste keer ‘n 21,1 km gedoen het, het vir ‘n mede hardloper langs die pad gesê: “As jy kan reël vir ‘n voertuig om my tog hier te kom optel, betaal ek jou R500.” Soos blits is daar sommer ‘n hele klomp medestryders wat om hom vergader en hom aanmoedig om klaar te maak.

Vreeslik die nuwe sêding: “Met vriende soos julle, het ‘n mens nie vyande nodig nie.” (In Namakwaland die eerste keer gehoor.)

HOE TROOS ONS?

Ek glo dat net wanneer ‘n mens self deur die smeltkroes van die lewe is, kan jy ander in soortgelyke situasies effektief bystaan (2 Kor. 1:4).

• Woorde. Job 6:25 - “Hoe kragtig is opregte woorde.” Ps. 45:2 – “My tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.” So, sê liewer niks as jy nie weet wat om te sê en as dit nie opreg bedoel word nie.
• Emosie en kompassie. Rom 12:15 - “wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;” Mense het al gesê: “Ek kon niks van jou preek onthou nie, maar toe jy saam met my gehuil het by die graf, was dit soos balsem vir my wonde.”
• Die taal van aanraking. ‘n Drukkie en ‘n hand op die skouer, doen dikwels meer as vele woorde.

GEBED

Here Jesus, maak my soos U. U het opregte woorde gespreek (Joh. 7:46) en emosie betoon (Joh. 11:35) en aangeraak (Mark. 1:41). Gee my ook die gesindheid om ‘n melaatse aan te raak. Amen!

Malmesbury Advertising