Waarop fokus jy?

02-god-van-baie-kanseWAAROP FOKUS JY?
Terwyl ons besig is om aan te tree vir die Swartland Halfmarathon op Moorreesburg vanjaar, sien ek ‘n mede atleet van ons klub en ek vra: “Hoe gaan dit?”

“Jong daar is maar baie skete maar kom ons los dit liewer.”

“Ja,” merk ek op, “as ek en jy nou op al ons skete en pyne begin konsentreer dan moet ons nou-nou in die bed gaan lê.”

Waarop fokus jy? Sommige is voortdurend besig om op die negatiewe te fokus en gevolglik moet hulle voor sononder vir hulle ‘n bed in die hospitaal reserveer.

Toe die twaalf spioene die land Kanaän gaan verken het, was daar die tien wat net die negatiewe raak gesien het (Num. 13). Die reuse en die versterkte stede. Gevolglik kom hulle met ‘n negatiewe boodskap terug en beïnvloed die hele volk ook negatief. Hulle sê (Num. 13:31): “Ons kan nie ...”

Net Josua en Kaleb het veral op die positiewe gefokus en die lieflike druiwe en vrugbare grond raak gesien en bo alles die wonderlike God wat hulle dien wat hulle uit Egipte deur die Rooi See en deur ‘n verskriklike woestyn gelei het. Hulle kom met ‘n positiewe boodskap terug en sê (Num. 13:30): “Ons kan ...”

Annalise Hofmeyr was ‘n dogter in die Sondagskool op Vredendal en het vir ons dié oulike liedjie geleer:

Twaalf man gaan spioen in Kanaän

Tien verbrou, twee vertrou.

Wat sien hulle daar in Kanaän?

Tien verbrou, twee vertrou.

Party sien die reuse groot en sterk

Party het die druiwe opgemerk.

Party sien ‘n God en die saak kan werk.

Tien verbrou, twee vertrou.

Alhoewel Abraham foutjies gemaak het, het hy wel later by die punt gekom waar die Woord van hom sê (Rom. 4:19): “En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.”

Nie gelet! Nie gelet!

GEBED

Here Jesus, my oë is op U. Op U grote krag wat ‘n Rooi See kan kloof en ‘n volk in ‘n woestyn kan voed. Wat ‘n vrou op neëntigjarige leeftyd ‘n seun laat kry het. U sal ook vir mý die uitkoms en die oorwinning bewerk! Amen!

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

Malmesbury Advertising