Vryilligers vir Jesus (5)

VRYWILLIGERS VIR JESUS (5)

Luk 9:23 Toe het Hy vir almal gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,”

IS VOLTYDS IN GOD SE DIENS

Vrywilligers is voltyds vrywillig in God se diens en hoef nie betaal te word om te doen wat hulle doen vir Hom nie. Hulle hoef nie eers ‘n salaris te ontvang voordat hulle voltyds vir Hom werk nie. Hulle verstaan hulle diens nie as iets wat deeltyds is of na-ure begin wanneer hulle uitgeval het na ‘n 8 tot 5 werk nie. Nee, hulle is heeltyd besig om vir Hom te werk daar by hulle sekulêre werk. Aanhoudend, oor en oor elke dag en hou nie op as iets negatiefs gebeur of hulle teenstand kry nie.

Kind van God, jy moet besef dat terwyl jy voltyds in die Here se diens staan as vrywilliger, betaal u sekulêre werk jou salaris. Jy staan nie in die eerste plek in ABSA Bank of in Ou Mutual of in Clicks of wat die firma se naam ook al mag wees, se diens nie. Hulle betaal jou net, maar eintlik staan jy in Jesus se diens. Alles verander as mens dít snap en verstaan – jou hele uitkyk van Christenskap.

‘n Tyd gelede het ietsie gebeur wat my hart so goed gedoen het. Volgens ons gemeente se gebruik gaan ‘n klompie van ons elke Saterdagaand op ‘n gebedsrit deur die dorp om vir ons dorp en sy besighede en omstandighede te bid. Maar die spesifieke aand was daar ‘n misverstand en het ek nie gegaan, omdat ek gedink het ons bid nie. Maar die ander bidders het gegaan en my later laat verstaan: “Ons bid elk geval, of die pastoor daar is of nie.”

Vrywilligers het stroomop teen die wêreld en menslike aard gekies om agter Jesus aan te stap. Hulle help, bid, dien, bedien, soek na siele, hulle ondersteun, reik uit, bemoedig, gee en openbaar altyd ‘n mooi gesindheid van dienaarskap ... Hulle hou aan om nooit weer te stop nie.

Toe die veteraan sendeling, past. Edgar Gschwend die dag afgetree het, het hy gesê: “Die kerk het my betaal om te doen wat ek in elk geval sou gedoen het.”

Policarpus was ‘n dissipel van Johannes die geliefde dissipel van Jesus (162 nC.). Hy was die leraar van die gemeente van Smirna. Toe hy 86 jaar oud was, het die Romeine hom gevang en hom forseer om Jesus te verloën, maar hy het gesê: “Vir 86 jaar het Jesus my gedra, hoe kan ek Hom dan nou verloën?” Toe het hulle hom probeer verbrand, maar die vuur het ‘n krans om hom gebrand en kon hom nie dood kry nie. Toe is hy met ‘n swaard deurboor en sy bloed het die vuur dood gespuit. Toe moes hulle ‘n ander vuur maak om sy liggaam te verbrand.

GEBED

Jesus, help my om tot die einde aan U getrou te bly tot die uiterste! Of hulle my raaksien of nie, dankie sê of nie, dis nie eens ter sake nie. Al wat saak maak, is dat U verheerlik sal word! Amen!

Malmesbury Advertising