Vriendskap (4)

VRIENDSKAP (4)

Ware en opregte vriendskap is van die kosbaarste luukshede wat mens vandag kan besit! John Maxwell het vertel dat tydens sy universiteits dae het die sielkundedosent gesê dat as jy maar net één ware vriend het, moet jy jouself as baie geseënd beskou. Toe het hy gedink: “Ag nee man, wat praat jy dan nou! Ek het sommer baie vriende.” Maar hy sê dat hoe ouer hy word, hoe meer besef hy dat wat die dosent daardie dag gesê het tog die waarheid is ...

Ek wil maar net ‘n kosbare ervaring met jou deel; hoe warm ‘n vriend se kortstondige teenwoordigheid jou hart kan laat klop en die mooi herineringe wat jou bybly.

Tydens 2013 se Safari Halfmarathon sien ek iemand wat saam met my op Onderwysers Kollege was. In die hardloop lyk hy van agteraf soos ‘n “ouerige omie met grys hare.” Onmiddellik besef ek dat ekself seker ook so deesdae vir ander moet lyk ... Ek was besig om stadig nader te skuif en ek sê hardop sodat hy my kan hoor: “Hier hardloop iemand wat ek ken.” Sonder om om te kyk antwoord hy. “Piet ... ek het gewonder of ek jou gaan sien.”

Om te dink na al die jare herken hy my stem. Ons was drie jaar intieme vriende op OKP (1975 tot 1977). Bernard Smith het ‘n groot aandeel in my bekering gehad. In 2008 het ons mekaar weer gesien by die Safari Halfmarathon en heerlik saam gekuier. Daarna het ek hom skrams weer by twee wedlope gesien en dis al.

Vir net ‘n paar minute gaan ons by mekaar verby en gesels ons ‘n sinnetjie of twee:

Bernard: “Hoe gaan dit?

Ek: “Nie so waffers nie. Ek hardloop op my hakke, want ek het my kuit beseer.”

Bernard: “Sterkte! Geniet dit elk geval.”

Ek was so ‘n entjie voor hom uit toe ek hom die laaste woorde van agteraf hoor sê: “Ek luister jou elke aand op die radio.” “Dankie, man! Mooi gaan!” antwoord ek oor my skouer terug terwyl die klap geluide van sy hardloopskoene op die teer verdof.

Net daardie paar minute wat ons in ‘n wedloop by mekaar verbyskuif en dis asof ons nooit weg was uit mekaar se geselskap nie. Vir daardie paar oomblikke was dit ‘n stukkie vriendskap wat net aangegaan het waar dit laas opgehou het.

• Die lekker gevoel van kameraadskap;
• Die band wat ons aan mekaar bind in Christus.
• Die stuk geskiedenis van student wees met al die gepaardgaande lawwighede.
• Die begrip vir mekaar as atlete wat saam op die baan hardloop om die wedloop te voltooi.

Hoe baie is vriendskap nie vir ‘n mens werd in hierdie lewe! Wat was die vriendskap wat Dawid met Jonathan gehad het nie vir hom nie werd ...?

GEBED

Dankie Here vir kosbare vriendskappe waarsonder my lewe soveel armer sou wees! Amen.

Ns. Ek wil jou weer aanmoedig om gou met ‘n vriend te kontak en jou waardering uitspreek vir sy waarde in jou lewe.


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe