Vriendskap (3)

VRIENDSKAP (3)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

Net om jou gedagtes te verfris: Job, die vroomste en rykste man van die Ooste is deur die Satan in sy liggaam aangetas en sit oortrek met sere op die ashoop en krap homself met ‘n potskerf. Sy drie vriende verneem vn sy toestand en kom besoek hom. Dan sit hulle vir 7 dae in stilte en bekyk sy toestand om dan los te trek met ‘n hoogdrawende redevoering; iets wat klink soos ‘n filosofie lesing op universiteit. In plaas dat hulle simpatiseer of op ‘n manier vir Job troos in sy uur van nood, vind hulle net fout en breek om af in sy gemoed. Vir alles wat hy sê om homself te verdedig het hulle net ‘n antwoord terug en vind hulle ‘n rede vir sy toestand. Dis sy sonde en ongeregtigheid wat gemaak het dat hy sit waar hy homself bevind.

Die arme Job weet later nie meer hoe om homself te verweer nie as hy sê (Job 6:14): “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

So, wat sê hy eintlik: “Nou maar as dit dan so is dat ek volgens julle nie meer die Here so mooi dien nie, nie meer so op standaard is nie; dan verwag ek dat júlle as my vriende ten minste by my sal staan. Dat julle nie nou julle rug op my sal draai nie. In hierdie vreeslike toestand waarin ek myself bevind, het ek so ontsettend julle morele ondersteuning nodig.”

Is dit nie ook maar wat ons almal verlang in die tyd wanneer ons seergekry het, swak is, moedeloos is, ‘n slegte ding oorgekom het nie? Dan het ek en jy nie ‘n klomp filosowe om ons nodig wat alles wil ontleed nie.

Mense wat met oorsaak en gevolge ons net nog verder in ‘n put in praat nie. Nee, ons het dan vriende nodig wat ons met deernis en liefde sal bystaan:

• “Ek staan by jou my vriend, maak nie saak wat gebeur.”
• “Ek is hier vir jou.”
• Jy’t al erger dinge as dit deurstaan.”
• “Dit sal ook verbygaan.”
• “Kan ek vir jou bid?”

Hierdie drie sogenaamde vriende van Job: Bildad, Elifas en Sofar, is ‘n goeie voorbeeld van hoe ons nié ons vriende moet bystaan in ‘n tyd van krisis nie.

Kyk net hoe sterk vertaal die Bible for Basic English hierdie vers (Job 6:14): “He whose heart is shut against his friend has given up the fear of the Ruler of all.”

As iemand my vriend is, staan ek by hom of haar al het hy of sy wát gedoen. Selfs al dien hy of sy nie meer die Here nie. My vriend, bly my vriend!

GEBED

Here, U staan my my, al faal ek U. So wil ek ook my my vriende staan, in die uur wanneer hulle dit nie gemaak het nie. Amen.


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

More in this category: « Vriendskap (2) Vriendskap (4) »