Vriendskap (2)

VRIENDSKAP (2)

Jy Kan Jouself Wees Sonder Om Veroordeel Te Word

Dis ‘n luuksheid vandag, want ons leef in ‘n dag waar almal omtrent al die foute van ander ken en tog so graag wil oordeel en veroordeel. In hul eie oog is die balk sodat hulle beswaarlik kan sien, maar die splinter in die oog van die medemens moet pynlik en terdeë uitgehaal word (Mat. 7:3-5). Ek dink dat die bedoeling van genoemde Skrif gedeelte is: Jy sal lewenslank doenig wees om die balke uit jou eie oë te haal dat jy nie gaan klaar kry om by die splinter van jou medemens uit te kom nie.

Hoe kosbaar en wonderlik, as jy ‘n vriend het wat doelbewus jou tekorte ignoreer maar eerder op jou goeie hoedanighede fokus.

Vriende Praat Nie Uit Nie

Dis baie kosbaar as jy ‘n ware vriend het teenoor wie jy jou hart kan uitpraat en weet dis veilig; dit sal nie oorvertel word nie. Ons het almal sulke veilige vriende nodig. Maar watter doodskoot is dit nie vir mense om later te moet uitvind, dat die persoon wat hy of sy vertrou het en hulle hul hart ontbloot het, het alles iewers gaan uitblaker. Hoe vertrou sulke mense ooit weer!?

Vriende vergewe mekaar

Daar kom verskille en misverstande selfs tussen die beste vriende net soos in elke huwelik. Daarom voel ek dat die belangrikste element in verhoudinge, is die van vergifnis. As ons nie kan vergewe nie moet ons liewer nie vriende hê of mense om ons toelaat nie, want een of ander tyd oortree ons teenoor mekaar.

Hoeveel keer moet ek iemand vergewe en bygesê, die ander persoon vir my? Jesus se sewentig maal sewe (Mat. 18:22) beteken maar net:

• Ek moet elke keer vergewe as hy of sy berou het en om vergifnis vra (Luk. 17:4).
• Ek moet selfs vergewe en vry spreek al vra iemand nie om verskoning nie (Mark. 11:25).
• Daar is geen beperking op die hoeveelheid kere nie.

WEES ‘N VRIEND TEENOOR ALMAL

Vriendskap moet verdien word. Ek moet eers ‘n goeie vriend wees teenoor ander, voordat ek kan verwag dat hulle my as ‘n vriend sal aanvaar. Dus, laat ek en jy die een wees wat uitreik na alle mense en ‘n vriend

wees vir alle mense. Jou gebrek aan vriende beteken, jý is nie ‘n goeie vriend nie.

IN DIE GEMEENTE

Jesus het aan die einde van Sy aardse bediening begin praat van sy dissipels as “vriende” (Joh. 15:13-15). Hulle het so na aanmekaar gekom dat hulle vriende vir mekaar geword het. Volgens Jesus:

• Doen vriende alles vir mekaar (Joh. 15:14);
• Deel hul alles met mekaar (Joh. 15:15);
• Moet hul selfs hul lewe vir mekaar aflê (Joh. 15:13).

In Jesus se gemeente is almal vriende …





More in this category: « Vriendskap (1) Vriendskap (3) »