Vrae en antwoorde deur engel Gabriël (3)

VRAE EN ANTWOORDE DEUR ENGEL GABRIËL (3)
(‘n Jongman aan tik verslaaf, worstel met vrae in sy hart. Ek is gevra om die rol van die engel Gabriël te speel en daarop te antwoord.)
15. Wat gaan ek vir mense antwoord as hulle my uitvra daaroor?
As jy jou hart vir Jesus gee, en jy word vervul met die Heilige Gees, kan jy ander baie leer en hulle vertel van die ware lewe in Christus!
16. My lewe was perfek en hoekom moes dit oor my pad kom.
Alles, sê die Bybel werk ten goede (Rom. 8:28) dus kan God ook uit hierdie slegte dinge iets goeds laat gebore word.
17. Is dit ‘n toets vir my?
As jy dit sien as ‘n toets, moet jy groot genoeg wees om te erken dat jy dit nie geslaag het nie. Maar in die Here se skool is daar altyd ‘n hereksamen. Dié kan jy slaag as jy vandag stop en die Here aankleef.
18. Ek wil stop maar hoe?
Erken jy kan nie op jou eie – jy het hulp nodig. Die beste hulp om by te begin is die Here Jesus. Hy sê (Mat. 11:28): “Kom na My toe julle almal wat vermoeid en belas is.” Gee jou hart vir Jesus en vertrou die Here om jou te verlos. Deur Sy krag is jy tot alles instaat sê Fil. 4:13. Dan verder, die Here gebruik ook mense. Jy het ook mense nodig soos die kleingroep waarvan ek jou al gesê het.
19. Hoe gaan ek dit aan my ouers verduidelik?
Vra die Here vir moed en kalmte en vertel vir hulle die hele waarheid. Hulle sal aanvanklik geskok wees, maar dan sal hulle besef hulle moet jou bystaan.
20. Hoe kon ek so vinnig verslaaf geraak het?
Maklik! – die duiwel se goed is sterk sleg en verwoestend! Die duiwel speel nie speletjies nie, hy is ernstig boos!
GEBED:
Lieflike Jesus, ek dra weer aan U op die vele jongmense wat aan dwelms verslaaf is. Hulle ouers is rasend bekommerd en desperaat. Sal U dan in U grote liefde en erbarming, U hand na diesulkes uitstrek en hulle verlos en inhaak vir die Koninkryk van God. Amen!




Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe