TWEE-EN-TWINTIG JAAR (1)

TWEE-EN-TWINTIG JAAR (1)

Gen. 45:26 –“Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog—en dat hy regeerder is in die hele Egipteland—het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.”

JAKOB

Sal enigiemand ooit weet wat het in die hart en gedagtes van Jakob vir 22 jaar omgegaan vandat hy die kleed van Josef wat verskeur was gesien het tot die dag dat hy die nuus verneem het dat sy seun leef as onderkoning in Egipteland? Dink aan:

• Die onopgeloste vrae in sy hart.
• Die kringloop van gedagtes wat hulleself oor en oor herhaal het.
• Die emosionele pyn;
• Die verdriet, hartseer en verlange na Josef, sy lieflingseun (Gen. 37:3).
• Tot selfs sy vertwyfeling in God se beskerming na dié voorval ...

Twee-en-twintig jaar is ‘n lang tyd om te loop en top met gedagtes wat nie tot rus kan kom nie. Ek onthou ‘n vrou wat ek destyds beraad het, wat nooit berusting kon kry nadat haar seun ook net spoorloos verdwyn het. Hy het saam met ‘n vriendin gaan swem by die see en hulle het op hul handdoeke op die sand in die son gelê. Die dame het ingesluimer en toe sy later wakker word, was die jongman net weg ... tot vandag toe ... Daar is nooit ‘n liggaam of ‘n kledingstuk iewers gevind nie. Wat presies gebeur het, weet niemand nie. Daar is baie bespiegel en gewonder. As hulle maar liefs die lyk van die seun kon vind, sou die moeder berusting kon vind. Sy het bly hoop: “My seun gaan op ‘n dag nog uitkom ...”

OPMERKINGS:

• Die lewe is dikwels baie wreed en selfs God se kinders is dit nie gespaar nie.
• Deur ander se toedoen, moet onskuldiges soms ly. In hierdie geval het die jaloersheid en die hardheid van hart van die broers van Josef gemaak dat Jakob vir 22 jaar ongekende verdriet moes beleef.
• Maar op die ou end kom God en vergoed vir Jakob vir die jare van hartseer. Gen. 48:11 – “En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.” Efe. 3:20 – “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink.”
GEBED

Here, bewaar my van ander se liefdelose dade, maar terselfdertyd weerhou my van liefdelose optrede waardeur ander kan ly. Amen!



Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe