Sy laaste oomblikke

SY LAASTE OOMBLIKKE
(Japie Mulder)

Dit is verstommend hoe mense in moeilike omstandighede soms bo hul vermoë kan optree. Dis wonderlik dat juis "bomenslike" omstandighede soms die beste uit iemand kan haal. En as so 'n persoon dan vereer word vir so 'n heldedaad, is hul antwoord gewoonlik: "Ek sien my self nie as 'n held nie - ek het maar net gedoen wat ek moes doen." Sulke optrede van mense is een mooi verskynsel in ons stukkende wêreld.

Ek het jare gelede gehoor van die boer van Hoopstad-omgewing - Andries Naudé. Hy was wat ek noem 'n "goed-gelowige, bloedgewaste, Geesgevulde aan-die-brand-vir-Jesus" Christen. Hy, sy vrou en nog een of twee ander persone was een Saterdag, terwyl hulle op pad was na 'n troue in Pretoria, tussen Johannesburg en Pretoria in 'n motorongeluk betrokke. Die ander passasiers is met motors hospitaal toe geneem, maar hy was so erg beseer dat hy vir 'n ambulans moes wag. 'n Verkeersman het by hom gewag, terwyl hy langs die motor op die grond gelê het. Hy het nie lank gelewe nie, toe sterf hy - MAAR voordat hy gesterf het, in die laaste minute van sy lewe, het hy eers met die verkeersman oor die Here, die ewigheid en sy geestelike toestand begin praat en voordat hy gesterf het, het hy saam met die verkeersman gebid en hom na die Here toe gelei.

Die Titanic het in die nag van 14 April 1912 van Engeland af op pad na die VSA, teen 'n ysberg gebots en dadelik begin sink. Daar was onder andere 'n Christen ook op die skip. Terwyl die mense in die ysige water spartel om te oorleef, het hy vir 'n man naby hom in die water geskreeu: "Is jy gered?"

"Nee!" het die man geskreeu. "Hoe word 'n mens gered?"

En die Christen het geantwoord: "As jy hier oorleef, kry 'n Bybel, gaan na Jesaja 53:6, gaan in by die eerste "almal" en gaan uit by die tweede "almal" en as jy dit glo, sal jy gered word.

Daarna het die Christen onder die water verdwyn. [Altesaam 1523 mense het dié nag verdrink.]

Die ander man is die volgende dag saam met ander mense deur 'n boot gered en hy is terug Ierland toe. Daar aangekom, het hy dadelik 'n Bybel gekry en Jesaja 53:6 gelees: "Ons het ALMAL gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het die ongeregtigheid van ons ALMAL op Hom laat neerkom."

Die man het sy sonde bely, die Here Jesus aangeneem en hy is gered. Hy het daarna gesê: "Ek weet nie hoeveel mense daardie man na die Here Jesus toe gelei het nie, maar ek was sy heel laaste een voordat hy gesterf het en hemel toe is."

GEBED

Here sit daardie passie vir siele en die vrymoedigheid om met mense te praat oor redding, ook in my hart! Amen.


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe