So is Jesus (4)

SO IS JESUS (4)

In Joh. 10 is Jesus die goeie herder agter Wie die skape volg en Hy lê Sy lewe af vir die skape. In Luk. 15 is hy die boer wat die afgedwaalde skaap gaan soek tot die uiterste toe.

Toe die boer agterkom daar kort een, was hy dadelik bekommerd. Nie soos sommige boere wat redeneer: Ag, wat, dis seker maar ‘n rooikat die keer. Laas keer was dit ‘n rooijakkals. Dis maar hoe dit gaan met boerdery. Mens moet maar aanvaar die roofdiere is met ons en hulle eis hulle kwota.

Maar nie hierdie spesifieke boer nie. Elke skaap in die trop is vir Hom uiters kosbaar. Trouens elkeen het ‘n naam. Daar bestaan nie vir hom so iets om sommer net ‘n skaap prys te gee nie. Hy wil weet wat het van sy skape geword. ‘n Skaap verdwyn nie sommer net in die lug op sý plaas nie, en hy sal nie rus alvorens hy nie ‘n verklaring gevind het nie. Hy los onmiddellik die res van die trop in veiligheid en gaan soek op elke moontlike plek waar ‘n skaap kan wegraak. Hy besef tyd is op die spel, want as die skaap iewers halfdood lê, kan hy dalk nog die skaap deurhaal.

Nou moet jy weet terwyl ek hier skryf, het my eie gedagtes al ‘n dosyn en meer draaie op die plaas gaan maak waar ek groot geword het, en beleef ek weer elke soektog en reddingspoging van een van die verlore diere op die plaas. Ek soek in my gedagtes weer op elke plekkie waar ‘n dier kan vassit in die vlei in die modder tussen die vleitjiesriet. Ek dink aan die slote waar diere dikwels ingeval het en dan hulpeloos lê, òf om maar dood te gaan van die honger òf dat iemand op hom sal afkom om uit te haal. Hoeveel weggooi lammertjies het ek nie eiehandig km’s gedra uit die veld vir my ma om hans groot te maak nie.

Die frase in Luk. 15:4 tref my: “totdat hy dit kry ...” Ja, “totdat hy dit kry.” Nog een maal: “totdat hy dit kry.”

Dieselfde lees ons van God in die Ou Testament wat praat oor sy afgedwaalde volk: Hos. 11:8 – “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?”

Dis hoe Jesus voel oor elke mens wat verlore is. Dis hoe Jesus voel oor elkeen van Sy kinders wat die pad byster raak en afvallig word. As jy afgedwaal het en dink dat Jesus gee nie vir jou om nie, het jy verkeerd gedink. Hy soek jou terug op jou plekkie naby Hom waar jy was toe jy nog met ‘n rein hart agter Hom aangeloop het.

So, i.p.v. terugval, val vorentoe in Sy arms!

Maar dis ook hoe elkeen wat ‘n navolger van Jesus is, moet voel en dink oor verlore siele!


Malmesbury Advertising