So is Jesus (3)

SO IS JESUS (3)

Jesus is vir ons soos die vrou wat een van haar tien pennings (silwermuntstukke) verloor en dan naarstiglik en deeglik deur die hele huis soek om dit weer te vind. Die Bybel vertel in Luk. 15:8-9 dat sy geen moeite ontsien het om die verlore muntstuk te vind nie. Sy steek die lamp op, vee die huis uit en die Bybel sê sy soek “sorgvuldig.”

Kan ‘n ding ‘n mens so omkrap as wanneer iets wat vir jou kosbaar is, net ewe skielik soek raak? So neem ek my kitaar met ‘n baie spesiale plektrum die aand na die selgroep. Ek wou graag vir hulle ‘n nuwe lied speel wat pas geskryf is. Toe ek in die huis van die sel kom, merk ek die plektrum is weg. Ek is terug motor toe en op my spoor gesoek of dit nie dalk iewers geval het nie. Almal is later aan die soek. Wat dit so spesiaal gemaak het; dit was ‘n driehoekie wat ek geknip het uit ‘n naam plaatjie van die plastiek wat ons ontvang het by ‘n vorige kerkvergadering. Die kerk se embleem was daar op en het dit vir my baie spesiaal gemaak. Deur die loop van die hele aand se sel het my gedagtes onwillekeurig draaie gaan maak by die verlore plektrum. In my agterkop het ek gepeins en gedink, waar dit tog kan wees. Hoe kon dit dan nou so ewe skielik weggeraak het? Met verdeelde aandag het ek gewag dat die sel moes klaar kry, dat ek by die huis daarvoor kon gaan soek.

By die huis gekom, het ek oral gesoek vir die plektrum. Die motor is vir die derde keer deursoek. Ek was later rasend van ongelukkigheid oor die verlore plektrum. Ek gaan soek later sommer op plekke waar ek weet dit nie kan wees nie, uit pure frustrasie. ‘n Paar keer sê ek vir myself: “Dit kan nie weg wees nie! Ek weet ek gaan dit kry!”

Die volgende dag neem ek my voor om in die daglig weer na die huis van die vorige aand te ry en daar rond te loop en die plektrum te soek totdat ek dit gekry het. Terwyl ek so besig is om die motor uit die garage te trek, sien ek so uit die hoek van my oog die vroutjie van die huis aangedraf kom: “Die plektrum – dis gevind! Ek het dit daar onder ‘n boom kry lê.”

Ek was so bly, dat ek selfs dit vandag vir jou vertel! Elke keer as ek daarmee speel, dan kyk ek met ‘n spesiale gedagte na die stukkie plastiek: “Om te dink, jy het ‘n hele nag buite gelê. Nou sal ek jou darem mooi oppas.”

So gaan Jesus op ‘n soektog na elke verlore siel. Voorwaar, Hy sal al Sy helpers inspan om te help soek. Al het jy so weggeraak tussen al die donkertes van die lewe en slaap jy ook buite op straat. Maar vind gaan Hy jou vind!

O, die blydskap as Jesus jou vind! Luk. 15:9 – “En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.”

Luk. 15:10 – “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

Malmesbury Advertising