So is Jesus (2)

SO IS JESUS (2)

BARMHARTIGE SAMARITAAN

Jesus is vir my en jou soos die barmhartige Samaritaan, wat self haastig was om by sy bestemming uit te kom, maar die man sien lê het wat deur die rowers aangerand was, maar letterlik en figuurlik uit sy pad gegaan het om die man in sy nood by te staan. Kyk net hoe baie gebeur in een versie (Luk 10:34): “Na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg.”

Hoeveel keer op ‘n dag buk Jesus nie by die gevalle sondaar om hom weer op te help nie? Hoeveel getuienisse hoor ons nie van mense wat in die haglikste omstandighede was, maar ... die Here het hom of haar weer opgetel!

Ek dink aan ‘n Saterdagaand waar ons bidders besluit het om i.p.v. deur die dorp te ry en te bid, liewer deur die strate te stap en te bid. Toe ons daar in Bokomoweg by die Railway Drank winkel verbygaan, sien ons ‘n man wat halflyf in die vullisdrom lê. Nou terwyl ek hier in die gemak en die gerief van die huis sit, is dit maklik om braaf te wees en te sê ons moes gesus en ge-so het. Maar halfskemer in daardie omgewing is jy jou lewe nie seker nie, wat te sê nog om te gaan vat aan ‘n ander se “pel” wat daar voor die “bar’ se oop deur lê. Dis ‘n omgewing soos I.D. du Plessis dit beskryf:

Waar die dienders gewapend moet gaan.

En die weerlig van ‘n skeermeslem in ‘n donkerhoek neer mag slaan.

Maar die barmhartige Samaritaan het sy lewe gewaag toe hy nie dadelik uit die gevaarlike omgewing so vinnig as moontlik padgegee het nie. Vir al wat hy wis, was die rowers nog daar, wagtende om die volgende slagoffer toe te takel, te beroof en vir halfdood agter te laat.

So is Jesus besig om op die hoeke van die gevaarlikste weë, waar die misdaad hoogty vier, waar almal te bang is om hulle lewens te waag, die uitgeworpenes op te help en na veiligheid en na ‘n plek van versorging te neem.

As jou omstandighede vandag iets soortgelyk is aan die man wat langs die roete van die barmhartige Samaritaan gelê het, weet dit, Jesus wil jou optel. Trouens Hy kniel nou daar langs jou … Sal jy Hom toelaat?

 

 

Malmesbury Advertising