Praters, Bidders, Bewendes en Daders (1)

PRATERS, BIDDERS, BEWENDES EN DADERS (1)

Een van die mees merkwaardige dade van waagmoed en durf, is die verhaal van Wolraad Woltemade. Die voorval speel hom af aan Tafelbaaistrand, 1 Junie 1773. De Jonge Thomas, wat voor anker gelê het, is deur ‘n hewige Kaapse storm die vorige nag meegesleur en het op ‘n sandbank beland. Die skip het in twee gebreek en die woeste golwe was besig om die skip te verpletter. Die noodkrete van die bemanning aanboord, het tevergeefs opgegaan, want alhoewel daar nuuskieriges op die strand staan en toekyk het, het niemand kans gesien om dit in die gevaarlike koue water te waag nie. Totdat iemand te perd daar opgedaag het ... Wolraad Woltemade. Toe hy verneem dat niemand bereid was om iets te doen nie, het hy besluit om te doen wat ander nie wou nie (1 Sam.17:32).

Die volgende oomblik het Wolraad sy perd die branders ingestoot. Met groot inspanning is die skip bereik, nieteenstaande die onstuimige see en wind wat gewaai het. “Twee op ‘n slag,” het hy geskreeu, bo die geraas van die storm. Dadelik het twee persone afgespring. Terwyl hul aan die saal se stiebeuels vasgehou het, het hy met sy perd omgedraai en die strand veilig bereik.

Die dapper held het weer die see ingestuur met sy perd en op dieselfde manier uiteindelik twaalf drenkelinge veilig op die strand gehad. Op daardie stadium was ruiter en perd heeltemal uitgeput. Almal op die land het by hom aangedring dat hy nie instaat was om dit nog ‘n slag die water in te waag nie. Sy roerende antwoord was: “Julle het nie gesien wat ek gesien het nie en julle het nie gehoor wat ek gehoor het nie.” Die pleitende gesigte op die boot, moes ‘n onuitwisbare indruk op hom gemaak het.

Onder hewige protes van die mense op die strand, het Wolraad weer op sy perd die see ingevaar en tog die skip gehaal. ‘n Jong moeder met haar babatjie wat op haar rug in ‘n kombers vasgemaak was, het eerste uitgeroep: “Nie vir my ontwil nie, maar vir my kindjie se ontwil!” Wolraad het teruggeskree: “Dit is jou kans, spring nou!” Maar terwyl sy talm het twee ander afgespring en die stiebeuels gegryp. Moeg tot die dood het hy hom in die saal omgedraai, vir haar gewink en geskreeu: “Wag vir my, ek kom jou haal!” Hy kon beswaarlik die strand haal! Daar was toe reeds veertien mense gered. Die omstanders het geweier dat Wolraad weer sou gaan, maar al waarvan hy bewus was, was die gekerm van die vrou op die skip.
…….

Hoor jy nie …? Sien jy nie …? Die verlorenes wat om jou verby beweeg. Hoe kan ‘n mens niks doen en hulle maar net gelate die verdoemenis tegemoet laat gaan?

GEBED

Here, gee my die waagmoed van ‘n Wolraad Woltemade om nie steen onaangeraak te laat om ‘n siel by die kruis te kry! Amen.

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën 
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.