Perfekte tyd en perfekte plek

PERFEKTE TYD EN PERFEKTE PLEK

‘n Vrou in ‘n gemeente was baie hartseer oor haar seun wat in dwelms verval het en toe nog boonop van die huis af weggeloop het. Hy’t alle kontak met sy moeder verbreek. Hy antwoord nie die selfoon as sy skakel of reageer op enige teksboodskap nie.

Die leraar in die gemeente en nog twee ander broers het toe besluit om haar te help en na die seun te gaan soek wat homself vermoedelik iewers in Durban bevind het. Voordat hulle die oggend vanaf Johannesburg wegtrek, bid hulle: “Here, dis so goed as wat iemand vir ‘n naald in ‘n hooimied gaan soek. Maar lei ons deur U Gees.”

Na 7 ure se reis kom hulle uiteindelik in Durban aan. Met geen idee waar om te begin soek in ‘n groot stad soos Durban, verneem hulle maar waar is die hoofsentrum van dwelms in die stad. So ry hulle maar biddende en vertrouende dat die Here hulle sal help.

Op ‘n kol, hoor hulle net die sirenes van ‘n polisie voertuig en hulle stop. “Is dit óns wat julle soek? Het ons iets verkeerd gedoen,” vra hulle vir die insittendes van die vangwa.

“Nee, ons jaag ‘n ander voertuig,” kom die antwoord terug.

So sit hulle hul soektog voort. Die volgende oomblik kom hulle by ‘n groot gebou en uit by die deure en op die trappe kom die jongman wat hulle soek, afgestap met ‘n bottel coke in elke hand en dwelms in sy mond versteek. Hy stap na sy motor en klim in. Toe hy inklim stop hulle net mooi agter hom. Hulle spring uit en trek sy motorsleutel uit en sê ferm: “Nou kom jy saam met ons!”

Sou hulle ‘n paar sekondes te vroeg of te laat gewees het, sou hulle die jongman gemis het. Maar God werk en lei hulle presies na die perfekte plek op die perfekte tyd!

What ‘n mighty God we serve!

The angels bow before Him

Worship and adore Him.

What ‘n mighty God we serve!

Dit laat ‘n mens besef, as jy fokus op die Here, is daardie soort van vertragings nie bloot toevallighede nie.

Jes. 48:17 – “So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.

Malmesbury Advertising