Nagtelfke Straattonele

NAGTELIKE STRAATTONELE

Ek het pas twee mense na die Here gelei en in my motor geklim om huis toe te ry. Terwyl ek deur die buurdorp se strate ry en bid vir die mense wat so pragtig hulle lewens aan die Here oorgegee het, sien ek ‘n jong dame alleen op die sypaadjie staan. Daardie tyd van die nag, kan nie iets goeds beteken nie ... “Ag Here,” praat ek met die Here, “sy kon my eie dogter gewees het.”

‘n Straatblok verder en ek merk nog ‘n jongmeisie alleen staan. “Here, dit kán nie wees nie! Hiér in ‘n plattelandse dorp! Ai my Jesus, wees tog barmhartig en genadig!”

Toe ek nog ‘n blok verder gaan; sowaar, daar staan nóg ‘n jongmeisie. Ek skat haar so tussen 14 en 16 jaar. “Here, my God, waar gaan ons wêreld heen?” Ek kon my eie oë nie glo nie ... Toe ons jare gelede as afgevaardiges na ‘n konferensie met ‘n bus deur Hillbrow gery het, het ek laas sulke tonele gesien.

Ek besef ek moet petrol ingooi, en ek draai by die eerste garage op linkerhand in. Terwyl die petroljoggie besig is om die tenk vol te maak, merk ek ‘n man wat so ‘n entjie daarvandaan besig is om sy slaapplek vir die nag in te rig en onder ‘n groen kombers inkruip. Hy trek ook sy sokkies uit en hang dit oor ‘n karton boks wat daar langs hom staan. Ek dink so by myself: “As daai voete moet sweet soos myne, dan sal die ruik nie meer te aangenaam wees nie en môreoggend sal hy dit maar weer netso moet aantrek.”

Later die aand terwyl die water van die stort die sweet van die dag afspoel, kom die beelde van vroeër die aand weer by my op. ‘n Rilling gaan deur my liggaam toe ek dink aan die drie jong dames wat hulle liggame moet verkoop. Ek sien weer die sokkies oor die karton boks ... Myne het ek klaar in die wasgoedmandjie gegooi en deur die Here se genade het vroutjie gesorg dat daar skones is vir die volgende oggend.

My omstandighede is soveel beter as die mense daar op straat. Ek kan stort of bad. Ek kan my gesig was en tande borsel ... Spontaan begin ek net die Here te prys. Ek sing vir Hom ‘n lied:

God is so good (x3)
He’s so God to me.

GEBED
Here, ons kan nie fisies iets doen aan al daardie mense daar buitekant in hulle nood nie, maar ons kan vir hulle bid. Here, dink tog aan die nood op straat in ons land wat ten hemele skrei! Wees almal genadig. Plant in hulle harte ‘n soeke na U. Red hulle siele en red hulle asb. uit hulle omstandighede! In Jesus Naam, amen!




Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe