'n Man met die naam Paulus (4)

‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (4)

SY PASSIE OM JESUS TE VERKONDIG ONGEAG DIE TEENSTAND

Wat maak ek en jy as mense ons met klippe bestook? Met die eerste klip hardloop ons dat die stof so staan en as ons ‘n veilige afstand bereik het dan skree ons met ‘n huil stemmetjie terug: “Ek gaan net ‘n bietjie vir my ma sê!”

Maar nie Paulus nie. In Hand. 14 terwyl hy besig was om die evangelie te verkondig, stenig hulle kom. Hulle het sy liggaam tot buitekant die stad gesleep en dit daar gelos met die gedagte dat hy dood was en dat hulle nou ontslae was van hom. Maar God het hom opgewek terwyl die dissipels hom omring het. Hy vlug nie weg met groot vrees vir wat hulle aan hom gedoen het nie of oor wat hulle weer aan hom kan doen nie. Hy gaan terug na Listre, die stad waar dit alles plaasgevind het. Daarna gaan hy na ‘n naburige stad en verkondig die evangelie ook daar en toe hy klaar is, keer hy terug na Listre, waar hy van te vore gestenig is.

Hoe maak die moderne kerkmense? By die eerste onvriendelike gesig of as iemand die persoon per ongeluk nie gegroet het nie: “Ek sit my voete nie weer daar nie!”

Marteling het Paulus nooit afgesit om vir die Here te werk nie.

Die naaste wat ek aan marteling gekom het, was tydens die ontgroening in die koshuis op Onderwys Kollege. As eerstejaars was dit deel van die inlywing: Ons moes voor die res van die koshuis studente met ‘n PT broekie op die gras verby kruip terwyl elkeen met ‘n tekkie of plakkie of skoen ons ‘n hou geslaan het, so hard as wat hy kan. Vir dae kon ons nie sit of as een net per ongeluk stamp teen jou boud, het jy in die lug geklim. Klink dit erg? Nie as jy Paulus se verhaal lees in 2 Kor. 11:24-26:

2 Kor. 11:24 – “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.”

2 Kor. 11:25 – “Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—“

2 Kor. 11:26 – “dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;”

Het hy teruggedeins? Hoor wat antwoord hy (Hand. 20:24): “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.”

GEBED

Here, gee my ook hierdie gesindheid om net voort te gaan om die evangelie te verkondig, ongeag watter teenstand! Amen!

Piet Smit

073 447 2902
(K) 022-4872200

Epos  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.

 

Unsubscribe