My lewe op 'n A4 (1)

N.a.v. my skrywe: Nagtelike Straattonele, het ‘n dame reageer en ek het haar gevra om haar getuienis te skryf nie groter as ‘n A4 bladsy.

MY LEWE OP ‘N A4 (1)
(Getuienis)

Hoe op dees aarde kry ‘n mens dit reg om God te prys, vir al die wonderwerke in jou lewe, op ‘n A4 bladsy? “Ek bid en vra dat die Heilige Gees my sal lei, om my ervaringe met ander te deel. Met wie dit dalk swaar gaan, sodat hul kan hoor dat hul nie alleen is nie … EN … dat daar HOOP is. Ek vra dit in Jesus Naam. Amen.”

Om van die pad af te struikel, gebeur so maklik en vinnig. Ek wil amper sê dit gebeur so vinnig soos ‘n ongeluk op die snelweg. Soms kry jy daardie noue ontkoming waar jy net betyds briek getrap het. Maar ek is seker dat almal van ons, se voet al van die pedaal afgegly het.
Daar het soveel ongelooflike goed in my lewe gebeur. Ek kan nie nou alles vertel nie. Ons was 4 kinders. My pa was vir jare lank ‘n volslae alkoholis. Hy was ongelukkig nie daardie tipe wat gou “uit-pass” nie. Hy was aggressief en gevolglik was die polisie gereeld by ons.

Daar was baie mishandeling. Molestering. Twee verkragtings. Buite egtelike kind. Getrou om uit die huis te kom. Eie besigheid gehad. Geskei en als verloor. Van hier af was dit afgrond vir my. Sonder werk. Sonder ‘n dak oor my kop. En met baie trots in my sak op die straat geëindig. Letterlik! Met stukkende skoene en klere, langs ‘n dam geslaap. My badkamer, die naaste stroompie wat invloei in die dam. Ek ken van honger slaap. Die hongerpyne het al weggegaan en kon ek vir 3 dae sonder kos bly.

Eendag was my slaapplek ontdek deur ander boemelaars. Ek moes ander skuiling gaan vind. Ingebreek op die naaste boer se plaas. Het so ver as moontlik van die huis af probeer bly om nie raakgesien te word nie. Ek was so gelukkig met my nuwe skuilplek. Dit het ‘n deur gehad! Ek het soos die tekenprent Heidi gevoel oor haar nuwe strooibed wat haar oupa vir haar gemaak het. ‘n Plaaswerker het my een aand sien ingaan in die skuur – die boer … het sy honde op my laat sit.

Ek het moeg geraak om te hardloop en ‘n oproep gemaak dat iemand my moet kom haal. Daardie oproep was na ‘n bordeel in Pretoria. Ek het my situasie verduidelik en gevolglik was hul te gretig om my te kom haal. Ek het baie verkeerde besluite geneem omrede ek al hoe verder van God af begin lewe het. Uit desperaatheid, het ek gedink dat dit die enigste pad is om nou te neem, om uit my situasie te kon kom.
(vervolg)

GEBED

O Here bewaar my van verkeerde besluite! Amen.


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe