Jou Advokaat wen elke saak (3)

JOU ADVOKAAT WEN ELKE SAAK (3)

1 Joh. 2:1 (AOV) – “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”

Hoekom het ons ‘n Advokaat nodig om vir ons by God die Vader in die hemel in te tree? Omdat ons, jammer om dit te sê, selfs na ons bekering nog sonde doen en oortree. Ons is net nie altyd op die standaard van en soos ons Here Jesus nie. Maar kan jy dink hoe is dit gesteld met die ongelowiges? Hulle is verlore en gaan verlore en het geen Advokaat om vir hulle in te tree nie.

IN DIE HOFSAAL

Kom stel jou nou voor hoe gebeur die dinge in die hemelse hofsaal. Hier kom die aanklaer aan, die duiwel, die groot storie aandraer: “U Majesteit, U kind Koos daar op die aarde het gister geskinder van Jan en ja, dis duidelik dat hy jaloers is op hom omdat hy sy plek oorgeneem het in die aanbiddingspan.”

Sou dit nou ‘n gewone aardse advokaat gewees het, dan sou hy alles doen om sy kliënt los te kry. Iemand vra my die anderdag: “Het jy al ooit ‘n eerlike prokureur gesien?” Prokureurs en advokate dra ongelukkig ‘n naam dat hulle die wet so goed ken en dat hulle dus ook baie planne kan maak ... Hulle sal die aangeklaagde verdedig en probeer regverdig en alibi’s bekom, want onthou hulle werk vir hulle eie sak. Maar Jesus die Regverdige, sal kom en sê: “Vader, die aanklaer is reg, máár My bloed het vir alles betaal!”

Maar hiermee nie tevrede nie, sal die aanklaer, die duiwel weer probeer: “U Majesteit, Koos het vanoggend soos ‘n blits daar by die huis weg gevlieg werk toe, hy’t nie eens gebid of Bybel gelees nie! Daar by die robot, in die middel van die dorp, het hy hom bloedig vererg toe ‘n ander roekelose bestuurder met sy motor voor hom ingedruk het. Die tale ...!”

Ons Advokaat, Jesus Christus, die Regverdige sal sê: “Vader, die aanklaer is weer reg. Máár My bloed het volkome betaal!”

God die Vader sal dan die hamer slaan en verklaar: “Saak laat vaar! Volgende!”

Dis so wonderlik om te weet: My en jou Advokaat wen elke saak! Die vraag is net: Het jy so ‘n Advokaat? Het jy ...?


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

Malmesbury Advertising