Hoeveel Kanse?

02-god-van-baie-kanse

HOEVEEL KANSE?
Iemand maak die opmerking: “Ek gee ‘n mens net één kans. As iemand my teleurgestel het, is dit verby. Ek sal hom of haar nóóit weer vertrou nie en ek onttrek my aan diesulkes.”

Maak seker jy het ingeneem wat jy so pas gelees het. Lees weer. Wag so bietjie voor jy verder lees.  Dink na. Sela ...

As die Here nou só met hom moes werk? Net één kans as hy die Here teleurstel en dis verby ... Ek verseker jou: Nie eens ‘n dag nie ...

Wie sou kon bestaan (Ps. 103:3)? Ja, letterlik niemand nie. Dis Jakobus wat elke mens wat meen dat hy in homself so regverdig is, gou aarde toe bring met die woorde (Jak. 3:2): “Want ons almal struikel dikwels.”

Nee, nee, nee! Werk sag met mense en hulle oortredinge. Spreek vry en jy sal vry gespreek word (Luk. 6:37)! Vergewe en verskoon maklik (Mat. 6:12; Mark. 11:25)! Leef en laat leef.

Let op die einde van diesulkes wat so hard en ongevoelig en ongenaakbaar is teenoor ander en hulle foute nie wil vergewe nie. Vele kere het ek gesien, hulle eindig stoksielalleen in ‘n ou klein kamertjie. Verbitterd en diep ongelukkig a.g.v. die wrokke wat hulle steeds koester teenoor almal wat hulle in die lewe te nagekom het. Almal wat wou nader kom, het hulle weggestoot.

WAAROM KAN MENSE NIE VERGEWE NIE?

As ek maar so kyk na diegene wat nie ander kan vergewe nie vind ek hierdie een gemeenskaplik faktor: Die gesindheid: “Ék maak nie ‘n fout nie.” En omdat hulle kwansuis nie ‘n fout maak nie, verwag hulle dit ook van ander. Gevolglik meen hulle dat wanneer ander teenoor hulle oortree, is dit moedswilligheid, doelbewus beplan en aspris en dis onaanvaarbaar.

ALMAL MAAK FOUTE

  1. Die tannie in Namakwaland het gesê: “Die ding mens, is befoutig.” (Vol foute)
  2. Die ou oom op Calvina het gesê: “Laat hierdie oom vandag vir jou sê boetie; daar is nie ‘n mens, of hy het ‘n fout!”

Verwag dan dat ander gaan foute maak. Begroot vir ander se foute, want hulle is mense net soos jy. (As ek beter gekommunikeer het, was my vyeboom nog heel – sien vorige skrywe.) Jy sien maar net nie jou eie foute raak nie, want ‘n mens is blind vir eie tekortkominge. 

Kol. 3:13 – “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”

PietSmit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

Malmesbury Advertising