Genesing van liesbreuk

GENESING VAN LIESBREUK

Die 20ste September 2018 doen ek ‘n liesbreuk op. Ek was genomineer om aan die S.A.s se 10 km padwedlope te gaan deelneem. Op daardie stadium was ons die naweek op Langebaan en ek oefen so hard as wat ek kan in voorbereiding. Toe ek by die huis kom, na die oggend oefening, het ek dadelik besef ek het ‘n breuk opgedoen aan my regterkantse sy. Ek het al van tevore ‘n liesbreuk opgedoen en weet presies hoe dit voel.

Die vorige keer se operasie en tyd in die hospitaal was vir my ‘n baie slegte ervaring en ek het die Here gesmeek om my nog so ‘n ervaring te spaar - verpleegsters wat die pille op die vloer laat val en in hulle hande hoes en jou dan kom inspuit ens.

Ek en ander het begin bid vir genesing. Dit was asof in ‘n nagmerrie ... hardloop het so deel van my lewe geword en ewe skielik kon ek nie meer nie. Snaaks hoe jy nog kan fietsry, maar jy kan net nie hardloop nie. In daardie tyd het ek baie geleer oor ‘n liesbreuk. Die medici het dit soos volg aan my verduidelik: ‘n Liesbreuk kan natuurlikgewys nie toegroei nie, want dit is twee spiere wat langs mekaar lê. Dis soos biltong waar ‘n mens die spiere sien wat langs mekaar lê. ‘n Liesbreuk is twee spiere wat losskeur van mekaar en dit kan nie weer aangroei nie. Net ‘n operasie kan dit herstel. (Volgens die dokters.)

Later is ek maar na die kliniek vir ‘n ondersoek en die operasie datum is geskeduleer.

So hou ek en ander aan om te bid, want dit glo ek onwrikbaar dat God kan enigiets doen en geen ding sal by God onmoontlik wees nie (Luk. 1:37).

Min of meer so ‘n week of wat voor die operasie, kom ek agter dat alle ongemak, selfs as ek hardloop, is weg! Voorwaar die Here het ‘n wonderwerk vir my gedoen. Ek het al vanjaar 6 wedlope gedoen; ek doen gereeld sprinte in my oefenprogram, en daar is geen teken van ‘n liesbreuk nie! Is die Here nie goed nie!!!
.

Ps. 50:15 – “En roep my aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

GEBED

O Here, groot is U trou! U genees nog steeds vandag! U ontferm Uself oor hulle wat U aanroep! Amen.


Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe