Genade tyd is byna verby (1)

GENADE TYD IS BYNA VERBY (1)

‘n Tyd gelede het ek opgetree by ‘n roudiens van ‘n tannie van my wat oorlede is (92 jaar oud). Sy het jare gelede ‘n droom gehad, wat sy my vertel het en wat my bygebly het deur al die jare wat ek ook aan die einde van die boodskap gebruik het.

Sy droom hoedat sy in die hemel se portaal staan. Die deure van die hemel was soos die skuifdeure wat ons in groot winkels kry wat outomaties oopskuif as jy aan kom en weer agter jou toeskuif. So droom sy dat die hemel se deure is besig om stadig maar seker toe te skuif. Maar sy sien haar kinders almal buitekant die deure. Sy roep na hulle om hulle te waarsku: “Kom julle, maak gou, die hemel se deure is besig om toe te skuif!” Maar hulle is so besig dat hulle haar nie hoor nie. Terselfdertyd hoor sy ‘n helder stem wat sê: “Genade tyd is byna verby!”

Vir ‘n tweede keer, roep sy na haar kinders vanaf die buitekant van die hemel terwyl die deure steeds nader kom om toe te skuif. Sy skree so hard as wat sy kan en so dringend moontlik, maar hulle gaan so op in die dinge van die wêreld dat hulle geensins agterkom dat hul ma na hulle roep nie. Vir ‘n tweede keer hoor sy die stem hard en duidelik sê: “Genade tyd is byna verby!”

Sy besef sy sal nou alles moet insit om haar kinders aan die buitekant te waarsku, want die deur was byna toe op daardie stadium en vir ‘n derde keer roep sy: “Kom julle, die hemel se deure skuif toe en julle is nog buitekant! Maak gou!” Met dié woorde op haar lippe, klap die hemel se deure teen mekaar en sy hoor dieselfde stem van vroeër: “Genade tyd is verby!”

In die dag van Noag, was daar ook net twee soorte mense: Die aan die binnekant van die ark en die aan die buitekant. Maar wat ‘n genade het God nie ook aan die mense wat voor die sondvloed gelewe het, bewys nie. Vir solank as wat Noag gebou het, was dit genade tyd vir al die aardbewoners. Noag moes vir die aardbewoners gepreek het, want 2 Pet. 2:5 noem hom “die prediker van geregtigheid.” Almal wat hulle wou bekeer en saam met Noag in die ark sou gaan, kon die naderende rampspoed ontvlug het. Maar hulle was te besig met die wêreldse dinge; daar was nie tyd vir God nie. Mat. 24:38 – “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,”

Die Here Jesus is vir ons soos die ark van Noag. Wie in Jesus is (2 Kor. 5:17), is veilig vir die hiernamaals. Is jy binne of is jy buite? Dalk het jy my nie gehoor nie; ek vra weer: Is jy binne of is jy buite!

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.

Unsubscribe

Malmesbury Advertising