Emosionele besluite

02-god-van-baie-kanseEMOSIONELE BESLUITE (1-3)

Gen 3:6 - “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë.”

  • Wie sal inkomste belasting betaal omdat hy so voel?
  • Wie sal altyd binne die spoed ry omdat hy of sy so voel?
  • Wie van ons sal by die stopteken stilhou waar daar geen verkeer is, omdat ons so voel?
Ek wil waag om te sê: “Niemand! Nie een van ons sal, as ons volgens ons gevoel moet handel nie!” Maar goeie landsburgers doen dit, want dit is soos die advertensie oor die betaal van die televisie lisensie dit uitdruk: “Dis die regte ding om te doen.”

Emosionele besluite, dit wat bloot op gevoel gegrond is, is nie goeie besluite nie. Inteendeel, dit kan baie sleg wees. Die besluit van die eerste mense paar om te eet van die verbode vrug was ‘n besluit op grond van wat hulle oë gesien het en hoe hulle gevoel het. As hulle sou gevra het: “Wat is die regte ding om te doen?” Sou hulle God gehoorsaam gewees het toe Hy gesê het:

Gen. 2:16 – “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,”

Gen. 2:17 – “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Dan sou ons die sondeval en die vervloeking van die aarde vrygespring het.

Die regte ding om te doen, oral en onder alle omstandighede, is om die Woord te gehoorsaam, hoe swaar dit ook al mag wees. Maar die gevolge sal altyd maksimum geseënde wees!

GEBED

Here Jesus, Koning van my hart, ek wil U altyd dien en altyd volg, ongeag hoe swaar dit teen die vlees in druis en hoe my vlees ook al rebelleer! Gee my die krag deur U inwonende Heilige Gees om oor die gevoel en emosie te triomfeer. Ek bid dit Vader in Jesus se Naam, amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

EMOSIONELE BESLUITE (2)

Heb. 13:15 – “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”

Kom ons neem dit ‘n treetjie nader na die geestelike dinge. Hoe sal dit gaan met die kerk van ons Here Jesus Christus as die gelowiges:
  • Net sal bid wanneer hulle so voel?
  • Net sal Bybel lees wanneer hulle lus is?
  • Net getuig wanneer dit hulle pas?
  • Net kerk toe gaan wanneer dit vir hulle gemaklik is?
  • Die Here se tiende gee wanneer hulle so voel?
Jare gelede vra ek vir ‘n volwasse broer in die Here wat altyd oorloop van vreugde en blydskap in die Here: “Jy is altyd vol vreugde en blydskap. Jy prys die Here onder alle omstandighede en niks kry jou onder nie. Sê my, hoe kry jy dit reg?” Sy antwoord het my verstom: “My broer, as ek die Here moes loof en prys soos wat ek voel, dan sal ek niks doen nie. Maar dis ‘n keuse wat ek gemaak het; ‘n wilsbesluit.”

Hoe werk die dinge daar by jou? Bid jy en lees jy Bybel en gaan jy kerk toe wanneer jy daarna voel?

Die Bybel wil nie hê ons moet wees soos kaf wat deur die wind verstrooi word nie of soos ‘n golf van die see wat heen en weer deur ons emosies beweeg word nie. God soek standvastige gelowiges; nie vandag hier en môre weer op ‘n ander plek. Vandag glo ons dit en wil dit in almal se kele afdruk, en môre hardloop ons weer weg met ‘n ander siening.

Standvastige gelowiges is mense wat ‘n besluit geneem het vir en in die Here: “Ek dien die Here ongeag watter omstandighede oor my pad kom!”

2 Kor. 5:7 – “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”

GEBED

Here, ek gaan my nie laat beweeg deur my sintuiglike sintuie nie – nie wat ek sien of hoor of voel. Maar U Woord sal my beweeg en U Gees sal my dryf! Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

EMOSIONELE BESLUITE (3)

 Jak. 1:20 – “Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.“

 Hoe verkeerd kan dinge vir ‘n mens loop as jy in jou drif en woede besluite neem en handel.

 Neem nou die geval van Karel wat met sy motor op pad werk toe is in die vroeë oggend verkeer. Maar in die spits verkeer stamp iemand sy motor. Dit voel vir Karel hy kan iets oorkom. Hy is klaar gespanne met die dinge wat oral druk en die waarskuwings wat hy by die werk gekry het omdat hy knaend laat opdaag en dit van weë soggens se stadsverkeer. Nou nog dit ook! Net daar vererg hy hom bloedig. Hy spring uit sy motor en storm op die man af wat in sy motor sit, ook oorbluf en geskok met die botsing.

Verwoed pluk Karel die man uit sy motor en staan met ‘n gebalde vuis gereed om hom toe te takel. “Jou dit se dat ... ek sal jou sus en so ...! Maar dis toe dat die polisieman daar van die oorkant die straat vir Karel met sy vuis in die lug sien staan. Van waar die polisieman staan en kyk, lyk dit vir hom asof Karel besig is om iemand met die vuis by te kom. Blitsig tree die geregsdienaar tussenbeide en arresteer vir Karel.

Karel is laat vir werk en verloor sy werk ... Sy vrou het gesê dat as hy sy werk verloor, gaan sy hom skei.

Al die drama, en dit net omdat ‘n man in sy drif en in sy woede opgetree het. Daarom dat ‘n mens so moet waak om nie jou humeur te verloor nie, want as jy jou humeur verloor, verloor jy kop en as jy jou kop verloor doen ‘n mens en sê ‘n mens dinge waaroor jy later bitter spyt is. Groot skade word aangerig wat jy nie weer kan regmaak nie. Dit kan nét vergewe word. Nie almal kan vergewe nie!

Ons ouers het ons almal geleer om eers stadig tot tien te tel ... Wat ‘n goeie les as ons dit net al slag sal toepas. Dit wil sê, koel eers af. Word eers kalm. Wag eers voordat jy in jou opgewerkte toestand ‘n besluit neem.

Een van die beste wenke wat ‘n kollega my destyds gegee het oor skryfwerk: “Jy moet koel na jou skryfwerk kyk vir ‘n tweede keer.” ‘n Mens raak so weggevoer met jou skryfwerk, dat jy nie besef hoeveel onverantwoordelike emosionele uitsprake jy maak nie.

GEBED

Here Jesus, sal U my in hierdie dag bewaar van ondeurdagte emosionele besluite! Amen.

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

Malmesbury Advertising