Die teenwoordigheid van God (3)

DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD (3)

Mat 1:23 – “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”

Dis nodig dat elke kind van God doelbewus die teenwoordigheid van die Here sal praktiseer. D.w.s sien die Here mét jou in alles wat jy doen en oral waar jy is.

Wanneer jy in ‘n vergadering is, sien vir Jesus daar met jou, want Hy ís daar soos reeds gesien in die tekste waarna ons gekyk het. Sien Hom hoe Hy jou lei in jou denke en besluitneming. Ons kan met sekerheid aanneem Sy teenwoordigheid sal duidelikheid van denke bring en inspirasie tot groot idees.

Wanneer jy gaan vir ‘n werksonderhoud, sien vir Jesus daar in die onderhoudskamer en sien hoe Hy vir jou die antwoorde en woorde in jou mond lê. Jou senuagtigheid sal wegsmelt as jy Sy guns op jou ervaar. Almal se koppe sal net goedkeurend knik en glimlagte sal op elkeen se gesig verskyn.

Dikwels, wanneer ek alleen in die motor ry dan stel ek my voor, Jesus sit langs my op die voorste sitplek en ek gesels met Hom. Wanneer ek dit so doen word Sy teenwoordigheid vir my net ‘n groter werklikheid. Wanneer ek deelneem aan ‘n wedloop bid ek al die pad en sien ek vir Jesus saam met my. Half onregverdig teenoor die ander wat nie bid nie. Dis soos die omie vir wie hulle gevra het: “Oom hoe doen oom se motor.”

“Jong, julle kan nie my motor vergelyk met ‘n gewone motor nie, want onthou, my motor loop onder gebed.”

Wanneer jy gehospitaliseer word, sien vir Jesus daar in die teater saam met jou. Sy hande oor die hande van die snydokter en die narkotiseur. Jou bekommernis sal verdwyn, want niks kan mos verkeerd loop in Sy teenwoordigheid nie.

Wanneer mense jou aanvat oor jou geloofslewe, besef Jesus is fluister afstand van jou af. Hy fluister die antwoorde in jou oor. Jou hele ingesteldheid verander. Jou lyftaal raak ontspanne, siende dat Jesus daar is om jou by te staan – die Een wat jou lief het en oor jou lewe waak.

GEBED

Dankie Here Jesus, dat U by my is oral waar ek gaan of staan. Dankie vir U bystand en teenwoordigheid veral in krisis tye. Amen!

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

Malmesbury Advertising