Die oor bediening

02-god-van-baie-kanseDIE OOR BEDIENING
Iemand vertel my dat tydens ‘n biduur-aand het die persoon vir die Here gevra: “Here wys my wat is my bediening?” Die volgende oomblik sien sy ‘n oor.

Daaruit was dit vir haar duidelik dat die bediening wat die Here vir haar in gedagte het, was om ‘n oor vir ander te wees.

‘n Oor is nie ‘n mond nie. ‘n Oor kan nét luister en niks oorvertel nie. Maar ‘n mond of ‘n tong kan baie gevaarlik wees en kan verskriklik seermaak en groot skade aan ander berokken. Mense met die oor bediening, is veilige mense. Spr. 20:19 – “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.” Spr. 25:9 – “Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ‘n ander se geheim nie,”

“Oop mond” mense haal vir hulself baie moeilikheid op die hals. In Namakwaland het ‘n broer (PL) altyd gesê: “’n Toe mond is ‘n heel mond.” Spr. 21:28 – “‘n Man wat goed toeluister, spreek vir altyd.”

Sommige is baie goeie vertellers maar hulle is swak luisteraars. Hou bietjie mense dop. Sommige moet altyd die praatwerk in die geselskap doen, maar die oomblik as ander praat, is hulle gedagtes elders; hulle begin iets te skryf of met die selfoon te woel. ‘n Houding van: Ander kan my niks leer nie en hulle gepraat, mors my tyd.

Om te kan luister vra van my en jou baie liefde.

  • Soms moet jy die storie vir die soveelste keer aanhoor (verduur), want jy wil nie die verteller die genot ontneem om sy storie klaar te maak nie.
  • Soms moet jy na onaangename dinge luister, maar teenoor wie moet die person praat as jý nie luister nie.
  • Want soms herhaal die persoon homself.
  • Die ou omie is so omslagtig.
  • Die ou tannietjie is so langdradig en jou kosbare tyd is in gedrang …

“Oop monde” leer niks, maar “oop ore” leer baie.

Ons het meer “ore” nodig in die dag waarin ons leef om vernielde mense by te staan - minder praters en monde.

GEBED

Sowaar Here, vandag is ‘n baie groot wonderwerk nodig. Gee my ‘n oor vir ander se nood! Amen!

PietSmit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

Malmesbury Advertising