Die oliefilter

DIE OLIEFILTER

Nah. 1:7 – “Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.”

Die ander Saterdag was dit weer tyd om die motor te diens. Deur die Here se genade kan ek self die nodige doen soos die olie aftap, oliefilter vervang, lugfilter opsit en die vonkproppe stel of vervang as dit nodig is. Dit spaar baie koste.

Die Mazda wat ons ry, is ‘n baie wonderlike ligte motortjie met goeie trek vermoeë en lae brandstof gebruik. Maar die oliefilter is so weggesteek en dit sit op so ‘n ongemaklike plek dat dit bitter moeilik is om dit van bo af met die hand by te kom.

Met dit in gedagte, bid ek vooraf en pak die taak die Saterdagoggend aan. Toe dit die oliefilter se beurt kom, beur ek met alle mag, maar ek kan dit nie beweeg  kry nie. My arm is later lam van alle style en maniere wat ek probeer. Dan probeer ek ‘n bo-oor greep, dan ‘n onderom greep, maar dis so ongemaklik dat ek net nie ‘n behoorlike greep op die oliefilter kan kry nie. Elke keer bid ek selfs, maar dis asof “die salwing net nie wil inskop nie.”

“Wel,” besluit ek, “laat ek dan maar eers die vonkproppe doen, sodat die arm eers kan uitrus vir ‘n latere probeerslag.”

Vonkproppe is klaar en ek pak weer die oliefilter - maar verniet. Magteloos en moedeloos staan ek daar rond en bedink allerhande planne. Toe dink ek aan my buurman. Hy is bedrewe met sulke klas van dinge en het dalk vir my daar ‘n oulike sleutel. Maar toe ek langsaan aanklop, sê die kinders dat hulle ouers nie tuis is nie.

Toe dink ek aan ‘n broer in die gemeente wat ‘n veldwerktuigkundige is en hy het al vantevore vir my ‘n wonderlike apparaat geleen om die oliefilter los te draai. Maar toe ek bel, is dit net die antwoordmasjien.

Die motor kan nie so bly staan nie, want op ‘n Saterdagaand ry ons deur die dorp en bid vir die dorp. Met die rug teen die muur en baie desperaat, bid ek vir ‘n laaste keer tot die God van Ps. 23 en die God van Ps. 121: “Here, asb. ek smeek U, help my genadiglik!”

Toe ek aan die oliefilter vat; daar “skop die salwing in.” Zoep! Los is hy!!!

Ps. 118:8 – “Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou.”

Ps. 118:9 – “Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou.”

Piet Smit

073 447 2902
(K) 022-4872200

Epos  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.

 

Unsubscribe