Die blokhamer-effek (1)

DIE BLOKHAMER-EFFEK (1)

In 1978 bevind ek my in die midde van ‘n yslike dilemma. Ek is ‘n vierde jaar Houtwerk student aan OKP (Onderwysers Kollege Paarl) en die dosent en ek verskil. Ek maak ‘n gomma-gomma sitkamerstel. Die dosent (TR) wil dat ek die ontwerp moet aanpas en die sitplekke moet laat sak sodat daar ‘n rant om elke bank is. Dan kan die kussings daarin pas en kan die kussings gereeld omgedraai word. Ek wil dit nie so hê nie, want die banke staan teen mekaar en indien iemand gaan sit tussen die twee banke dan gaan sit hy of sy met sy of haar stuitjie op daardie rant. Dis ‘n pynlike ervaring; vra my!

“Mnr. Smit, as jy nie gaan maak soos ek wil hê nie, gaan ek jou ignoreer vir die res van die jaar! Jy kan dit later by jou huis eendag verander as jy wil.” Die dosent is ‘n uitstekende ontwerper, maar voorwaar ek was vas oortuig dat hy nie so onbillik kan wees om sy smaak op my af te dwing nie en ek moet daarvoor betaal. Ek was lus om die rektor van die Onderwys Kollege te gaan spreek.

Toe breek die kort pouse aan en op daardie spesifieke dag was daar ‘n CSV biduurtjie in een van die klaskamers. Ek drentel aan om daar te gaan troos soek vir my ontstelde gemoed. ‘n Eerstejaar swartkop dametjie lees een teks voordat ons sal bid. Sy lees 1 Pet. 2:18 – “Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.” Kyk ook gou na die 1983 vertaling: “Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik.”

Soos ‘n blokhamer in die Houtwerkklas tref dit my teen die kop!!! Wat!!! Wil die Here regtig hê ek moet my onderwerp aan ‘n dosent wat so onbillik en onredelik is? Dis mos mý meubels wat ek met mý geld moet betaal en ek gaan dit eendag in mý huis gebruik! Moet ek nou vir die res van my lewe ontevrede wees omdat die dosent sy wil op my kom af forseer!?

Later die aand bel ek ‘n tannie van my wat volwasse in die Here is. Haar antwoord: “My kind, as die dosent een plankie daar wil hê, sit sommer twee daar!” Nou’s ek eers kwaad! Niemand verstaan nie!

Almal kies kant teen my!

Gedurende die nag stoei en worstel ek met die Here. Teen die oggend ure wen die Here en Sy Woord ...

“Mnr. ek sal maak soos u wil hê.”

Die vrede en die seën in die Here daarna!!! Die les wat ek vroeg in my geestelike lewe kon leer om my te onderwerp aan die gesag oor my aangestel. So terloops, het jy geweet dat die beste leiers is ook die beste volgelinge? Sommige leer nooit daardie les nie en sukkel en worstel en het stryd, lewenslank ...

Jy? Al die les geleer? Die blokhamer, doen die ding!




Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

Malmesbury Advertising