Die algemeenste gebede

DIE ALGEMEENSTE GEBEDE

1 Thess. 5:17 – “Bid sonder ophou.”

Fil. 4:6 – “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Ek is van mening dat die twee soorte gebede wat ons die meeste moet bid die volgende moet wees:

Here Help My

Vir die groot take en die goed wat vir ons ‘n probleem is, sal ons normaalweg bid. Maar vir die eenvoudige dinge wat ons voel ons darem goed kan doen, bid ons gewoonlik nie. Hoekom sal ek dan bid as ek dit al toe oë kan doen, is ons redenasie. Maar sonder gebed is dit maar nie dieselfde nie. Wanneer ons bid, selfs oor die kleinste sakie, toon dit vir die Here ons is afhanklik van Hom en vloei daar ‘n salwing weens Sy ingryping en teenwoordigheid wat andersins daar nie sou gewees het nie en alles verloop so mooi.

So dikwels misluk die sogenaamde maklike goed en dan sal ons bid ... So hoekom nie maar van die begin af bid nie? Hoekom nie maar sommer oor alles bid nie? Ja, ons hele dag moet gevul wees deels met hierdie eerste soort gebed: “Here help my!”

Dankie Here

Ons leef in ‘n dag waar vele mense so ondankbaar is en hulle dink die lewe skuld hulle iets. So verkeerd; ‘n mens moet hard werk om iewers te kom in die dag waarin ons leef. In baie gevalle gaan dit soos met die tien melaatses waar net één uit die tien teruggedraai het en vir Jesus dankie gesê het vir die genesing.

Veral is daar baie jongmense wat wil begin waar die ouergarde geëindig het. Dis asof hulle nie besef, die ouer mense het vir jare en jare gewerk en studeer om te kom waar hulle gekom het. Ek gun vir ander die beste en beter as myself maar laat my toe om so iets te vertel oor myself en my vrou se begin jare. Ons het nie geld gehad vir hotelle en gastehuis nie. Ons het in die motor geslaap.

Ons het nie geld gehad vir restaurante en koffiewinkels nie maar het ons kos ingepak en ons koffie saam gery. Daarom is ons vandag so dankbaar en is ons maar altyd besig om vir die Here dankie te sê vir die kleinste dingetjies in ons lewens.

Leef dus biddend: “Here help my” en nadat die Here jou gehelp het, sê dan: “Dankie Here!” Op dié wyse leef jy ons bogenoemde teksverse.

Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
Epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.


Unsubscribe

Malmesbury Advertising