As jou regte plek leeg is

AS JOU REGTE PLEK LEEG IS

As ‘n mens op die verkeerde plek is, is jou regte plek leeg. Om op die verkeerde plek te wees kan baie gevaarlik wees.

Toe ek standerd 4 was, het een van die skoolmaats besluit om daardie jaar nie rugby te speel nie. Hy het nie kans gesien om op die krieketveld te oefen waar die duwweltjiedorings steek en die brandnetels brand nie. Hopefield, was maar ‘n klein skooltjie en elke seun móés noodwendig speel om die span vol te kry. Hoe die sport onderwyser ook al gesmeek en gepleit het, my skoolmaat staan by sy besluit.

So, terwyl ons ander dan op ‘n Woensdag namiddag spook en sweet op die krieketveld tydens die onder-13 rugbyspan oefening, ry ons maat met sy fiets op en af in die hoofstraat en kyk toe, hoe ons daar tussen die duwweltjies en brandnetels woed. Dán ry hy met ‘n koeldrank en dán met ‘n roomys. Op ‘n stadium ry hy die hoofstraat af met volle spoed om net voor die brug regs te draai na oom Ben Muis se viswinkel toe. Maar o wee, daar kan hy nie sy draai kry nie en is hy oor die rant van die afgrond net langs die brug. Hy val met fiets en al tussen die kragpaal en die ankerdraad tussen die bottelglase. Hy breek sy arm met veelvuldige snye oor sy gesig en bolyf en sy fiets afgeskryf.

Op ‘n dag ry ek weer deur Hopefield en ek hou stil by die brug oor die Soutrivier en ek staan by die presiese plek waar my maat afgestort het soveel jare gelede. Ek kon nie help om te dink: “Ja, as hy daardie dag liewer op die krieketveld was, sou hy nie hier kom af val het nie.” Ek maak ‘n verdere uitbreiding: “As ‘n mens op die verkeerde plek is, is jou regte plek leeg.” Mens hoor soms die uitdrukking van mense wat vooruit gegaan het in die lewe: “Hy was op die regte plek op die regte tyd.”

Ek is so outyds, maar so Bybels om te glo; daar is op ‘n Sondag, net een regte plek vir die kind van God. Dit is in die plaaslike gemeente tussen jou broers en susters (Heb. 10:25). Dis die veiligste plekkie wat daar kan wees:

  • Geen frats branders wat jou van die rotse kan afslaan as jy besluit het om liewer te gaan visvang by die see.
  • Geen stroom versnellings wat jou kano kan meevoer.
  • Geen diep waterkuile waarin ‘n mens kan verdrink.
  • Geen hangbrug waarvan jy dalk kan afval, ens.

Bly op jou nes, dan bly jy ongekwes!

Piet Smit

073 447 2902
(K) 022-4872200

Epos  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in
te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.

 

Unsubscribe