@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Wense en begeertes in die Here

02-god-van-baie-kanse
Ps. 21:3 – “U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie.”

Is daar ‘n mooier belofte in die hele Bybel as dit? Om te dink die grote God wat die Skepper is van die heelal kyk diep binne in jou hart en hy sien die wens wat jy onhoorbaar vir enige ander mens, sug en begeer. Dinge waarvan geen, maar geen mens ooit sal weet nie. Die goed wat jy met geen mens kan bespreek of kan toevertrou nie.

Maar dis nie al nie; om te dink dat die begeertes wat jy soms fluisterend uitspreek, wat óók nie vir ander se ore bedoel is nie, dit hoor die Here. Ja, die gebede wat jy gebid het in jou binnekamer wat niemand gehoor het nie, het die Here gehoor. Dat die Here in ons menslike begeertes ‘n behae het, gaan my verstand te bowe.

Ek en jy het al op die snaaksste en mees buite gewone plekke gebid en die Here het dit alles gehoor. Ek onthou die keer wat ek met my kombi alleen vanaf Kaapstad, Vredendal toe gery het die Saterdag namiddag en langs die pad na die Here geroep het. Al die sake wat my gepla het, het ek aan Hom opgedra. Die Sondag kom ‘n broer langs my staan en begin profeteer: “Ek het gehoor wat jy geroep het toe niemand jou gehoor het nie ...” En alles wat ek gebid het in die kombi word woord vir woord net so herhaal!

  • Alles wat jy gebid het, toe jy met die vragmotor teen die bergpas uit gekruie het.
  • Al die goed wat jy geprewel het toe jy die saadjies in die tuin gesaai het.
  • Elke dingetjie wat jy smekend voor Hom genoem het toe jy die koeie kraal toe aangejaag het.
  • Toe jy met die hond gaan stap het en tegelykertyd ook met die Here gepraat het.
Dan op ‘n goeie dag besluit die Here dat jou dag het aangebreek! As God besluit om te seën wie kan keer? En soos die koerierdiens wat vir ons ‘n pakkie van ver kom aflewer, so kom die Here en bederf ons met ál daardie versoeke wat ons tot Hom gerig het en Hy kom lewer dit af by ons adres!

Mag jou bederf tyd spoedig aanbreek! Sommer vandag, as ek vir jou mag kies!

MY GEBED VIR JOU

Hemelse Vader ek bid vandag vir elkeen wat hierdie stukkie lees en dit met geloof aanvaar, dat U vir hulle genadiglik, spoedig sal gee die wens van hul hart en die begeerte van hulle lippe. Amen! 

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

You are here: Church Wense en begeertes in die Here
schoemans-chartered-accountants die-courant