(Japie Muller – skryf so mooi in antwoord op my skrywes dat ek dit met jou moet deel.)
Mense praat van die mooi vooraansig, die mooi sierstene - selfs die dak is soms "mooi" geverf, ens. maar ek het nog nooit iemand oor 'n gebou hoor praat en wat sê: "Kyk net na die mooi fondasie" nie. Tog dra daardie stene die hele gebou – dit dra die mooi vooraansig, die mooi sierstene, die mooi voorportaal, die slaapkamers, die mooi badkamer[s], ja selfs die mooi geverfde dak - alles rus op die fondasie.
Fondasie-stene se waarde lê nie in dit wat ‘n mens sien nie, maar in die geweldige vrag wat hulle dra - die ondersteuning wat hulle bied.
In 'n gemeente opset beteken dit nou nie dat as jy 'n persoon nooit sien of hoor, dat hy noodwendig deel van die fondasie is nie, maar die waarheid is wel dat daar mense is wat soms "agter die skerms" reuse bydraes in die werk van die Here maak.
Mense het verskillende bedieninge, gawes en talente. Hoe wonderlik is dié:
- wat voor loop, voor vat en voorsing;
- mense wat kan lei en kan oplei;
- dié wat die organisasie en administrasie behartig;
- dié wat ‘n sieke of moedelose besoek, sonder dat hy daarvoor gevra word;
- dié wat opmerk dat sekere lidmate nie by die diens was nie en hulle kontak en uitvind of daar dalk probleme is;
- dié wat ‘n moedelose besoek en saam bid totdat die Here oorwinning gee;
- dié wat ‘n koeldrankblikkie op die parkeer area sien lê en dit optel. ‘n Mens kan net die Here dank vir sulke mense.
Maar dan is daar ook mense wat nie so baie gesien word nie . . . Soos die ou omie wat my verseker het: "Pastoor, ek en my vrou staan elke nag op ons knieë voor die Here, en dan bid ons vir jou." Ek voel nou nog om te huil as ek daaraan dink. Dis soo kosbaar!
Die Here ken Sy fondasie-stene!
GEBED
Here Jesus, ek gee erkenning aan die dierbare broers en susters wat agter die skerms bid en werk vir U saak. Mag die voorgangers altyd besef dat hulle sukses is grootliks te danke aan die fondasie-stene. Mag U seën altyd op hulle rus en mag hulle loon aan die anderkant gewis wees omdat hulle weinig loon aan hierdie kant ontvang. Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar.Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



