Die ware lewe begin eers die dag wanneer ‘n mens gered word. Dis die dag dat ‘n mens jou tot God bekeer en jou hart vir Jesus gee en weergebore word (Joh. 3:3).
Dit bly die grootste wonderwerk wat daar op aarde kan gebeur en daarom kan ‘n mens nie die Here genoeg dankie sê nie. Om te dink dat Jesus neem my en jou plek op die kruis en sterf sodat ons daardeur gered kan word (1 Kor. 15:3)! Dit is net so oneindig wonderlik; ek raak elke keer in vervoering daaroor en kan nie daaroor uitgepraat raak nie. Dis soos ‘n droom (maar tog is dit ‘n werklikheid) om te kan sê:
- As kind van God, is die hemel my voorland (1 Thess. 4:17)!
- As Jesus nou kom, word ek oorklee met ‘n verheerlikte liggaam (2 Kor. 5:2, 4)!
- Word ek saam in wolke weggeneem (1 Thess. 4:17)!
- Gaan ek saam met Jesus stap op strate van goud (Open. 21:21)! O, wat ‘n wonderlike Jesus en wat ‘n vooruitsien!
Daarom is dit seker ook die grootste liefdesdaad om aan ander die evangelie te verkondig, hoe eenvoudig ook al en ongeag die formaat of die aandeel aan iemand se redding. Maar die teenoorgesteld is ook waar. Die grootste leed wat ek ander kan aandoen, is om die evangelie van ‘n ander te weerhou! Dis niks minder as ‘n geestelike misdaad teenoor ‘n ander gepleeg!
Ons hoor van wrede misdade wat leierfigure deur die jare teenoor mense gepleeg het. Vergrype wat dan later bestempel is as misdade teen die mensdom waarvoor hulle swaar vervolg is. So is die uitwissing van die 6 miljoen Jode in die gaskamers deur die toedoen van Adolf Hitler beskou as misdade teen die mensdom tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Maar is die weerhouding van die evangelie aan mense wat op pad hel toe is, nie net so erg of dalk nog erger! Dit beteken: Ek is gered met al die volmaakte voorregte wat my aan die anderkant wag, maar ek verseg om iemand van Jesus die Redder te vertel wat afstuur op die ewige verdoemenis, terwyl dit in my vermoë is! Ek dink dis ‘n geestelike misdaad teen die mensdom!
Kinders van die Here en elkeen wat gered is, ons sal weer moet besin oor wat ons redding vir ons beteken. Ons sal weer moet nadink oor wat die implikasies is in die weerhouding van die evangelie aan ander terwyl dit in ons vermoë is om hulle te vertel!
GEBED
Here, mag my redding vir my nét so baie beteken soos die redding van ‘n ander se siel! Amen!
Ek word agtermiddag op geneem in die hospitaal vir ‘n liesbreuk operasie Vrydagoggend. Gevolglik kan ek nie vir u môre oggend ‘n boodskappie stuur nie. Ek weet nie presies wanneer ek weer reg sal wees nie.
Mag Jesus oor u die wag hou in die tussentyd.
Seënwense in Hom
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



