@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Watter soort vriend is jy?

02-god-van-baie-kanse
WATTER SOORT VRIEND IS JY? (1)
Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”
Die Satan kom stel hom ook voor die troon van God en sê dat Hy kom vanaf ‘n swerftog oor die aarde. Dan vra die Here vir hom (Job 1:8): “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie; ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”

Maar hoor net hoe subtiel en kwaadwillig kom die sielevyand met sy klag teen die vrome Job. Job. 1:9 – “Is dit verniet dat Job God vrees? Dan rig die Satan die volgende versoek tot die Here (Job 1:11): “Strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het – waarlik, hy sal U in U aangesig seën” (beteken hier vloek). In gewone alledaagse taal: “Ek vat U ‘n weddenskap, as daar aan sy baie besittings gevat word, sal hy U nie meer so mooi dien nie. Inteendeel hy sal U vervloek!” 

Die Here staan die versoek toe en die Satan trek los en die arme Job word getref met allerhande rampe:

  • Sy beeste word geroof en dienaars word gedood deur invallers (Job 1:14, 15).
  • Die weerlig verteer die kleinvee en die wagters (Job. 1:16).
  • Die kamele word geroof en die oppassers word gedood (Job 1:17).
  • En die ergste van alles; al sy kinders sterf in ‘n geweldige storm (vers 19).

Arme Job - gestroop van al sy lewende hawe en sy kinders is almal dood. Stel jou bietjie voor in Job se beklaenswaardige posisie. Die Satan het gesê as hierdie soort van goed met hom gebeur, sal hy die Here vloek. Maar wat gebeur? Job 1:20, 21 - “Toe (het) Job ... in aanbidding op die grond geval en gesê: ... die Naam van die HERE sy geloofd!“

Job 1:22 – “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie,” Verseker, bo alle twyfel; Job slaag die eerste toets.

Maar hiermee nie tevrede nie, kom die Satan vir die tweede keer. In my eie woorde: “Kom ons maak die toets so ‘n bietjie hewiger. Trek net U hand van sy lewe af dat ek hom in sy liggaam kan aantas. Dan sal U sien hoe hy U sal vloek!” Nog ‘n keer staan God die versoek toe en Job word “met bose swere getref, “van sy voetsool tot die skedel.” (Job 2:7)

Weer slaag Job die toets en het hy God nie gevloek of met sy lippe gesondig nie. Maar toe daag die vriende (sogenaamd) op ... Hulle reaksie toe hul Job van ver aanskou, hul stilswye vir 7 dae (en later se woordewisseling) het gemaak dat ons lees (Job 3:1): “Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek.” Nie sy omstandighede, maar Sy vriende sink hom!

Nou kom die Woord van die Here vandag tot my en jou en vra: Watter soort vriend is jy? Staan jy jou vriende by in die tyd van stryd of sink jy hulle?

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

WATTER SOORT VRIEND IS JY? (2)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

Nie Satan of al sy bose werke kon Job sink nie:

  • Nie sy gekonkel agter sy rug by God.
  • Nie die vernietiging van sy troppe vee en sy werkers.
  • Nie die uitwissing van sy kinders.

Nie die feit dat selfs sy eie vrou haar rug op hom gekeer het en vir hom sê (Job 2:13: ) “Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën (vloek) God en sterf!”

Maar sy vriende se optrede en gedrag maak dat Job knak onder die drag van aanvegtinge teen hom. Gaan lees maar weer die hele aanloop tot Job se ellende en direk daarna. Nooit en nêrens het hy geklae. Terwyl hy ‘n geweldige vermoënde man was, die rykste van “al die kinders van die Ooste” (Job 1:3) verloor hy alles in ‘n ommesientjie sodat net hy, sy vrou en 4 werkers oorgebly het. Tog was hy ‘n letterlike voorbeeld van die evangelie lied, Blink Skyn Die Dagster Helder Vir My, se vierde vers se woorde: “en met geduld dra ek elke las ...” Maar hier kom sy drie “wonderlike” vriende op wie hy vertrou het en met wie hy, kan ons aanneem vir jare al ‘n intieme pad loop. Toe hy op hulle staatmaak en ondersteuning soek, toe staan hulle kil, koud en ongenaakbaar teenoor hom. Toe trek hulle los en beskuldig hom!

DIE WONDER VAN VRIENDSKAP

Vriendskap is so wonderlik. Niemand weet wanneer dit begin nie. Dis soos druppeltjies wat ‘n bottel volmaak en op ‘n dag ontdek jy net die bottel is vol. Iemand het gesê: “Dis nie ‘n kuns om vriende te maak nie; dis ‘n kuns om vriende te bly.” Job se vriende laat my dink aan die pynlike ding wat gesê word van die kerk: “Die kerk is die enigste weermag wat sy gewondes skiet.” Wanneer iemand in ‘n werklike geveg in die oorlog gewond word dan word hy afgevoer vir mediese behandeling, maar laat iemand net in die kerk struikel en val, dan skryf die kerk hom of haar af. So dikwels draai die kerkmense die rug op hom of haar en behandel die persoon so stief dat hy of sy nie anders kan as om maar by die huis te gaan sit en in stilte ly en maar op die ou end aan sy of haar wonde te beswyk.

GEBED

O Here onse Here, U wat ons nie afskryf as ons struikel en val, maar U red ons net nog ‘n maal. Vergewe elke koue skouer wat ons vir ons dierbares gegee het wat langs die lewenspad geval het. Vele het die geestelike pad vaarwel geroep, maar dankie dat U hulle nie afgeskryf het nie. Help my om hulle weer te gaan opsoek en terug te bring na die kring van gelowiges. In Jesus Naam, Amen!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

WATTER SOORT VRIEND IS JY? (3)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

MOOIWEERS VRIENDE

Na al die jare wat ek deur Job werk, was dit hierdie keer soos nuwe lig wat val op die vriende van Job. Ek betwyfel hul opregtheid in die lig van die hele boek en alles wat mens lees rondom die woordewisseling tussen Job en hulle.

Onthou Job was volgens Job 1:3 die rykste van “al die kinders van die Ooste.” (Ek skilder vir u my beskeie prentjie en u mag van my te verskil.) Vir al wat ons weet het die drie vriende; Bildad, Sofar en Elifas voordeel getrek uit die groot welvaart van Job en uit die hoë posisie wat hy in die samelewing beklee het.

My oorlede ma het so ‘n gebrabbelde rympie gehad: “Toe Jantjie veel had, was daar veel wat met hom at. Toe Jantjie niks heefd, was daar ook niemand wat hom iets geeft.” Moontlik was dit presies dieselfde wat daar plaasgevind het, waar Job in die as gesit en hy hom met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:8).

Toe sy drie vriende met skok kennis neem, Job het alles verloor en hy verkeer in die aller verskriklikste toestand met sy hele lyf oortrek met bose swere, het hulle gekom om hom by te staan (Job 2:11). Toe hulle uiteindelik by hom kom en sien hoe lyk sy werklike toestand, sê die Woord (Job 2:12): “het hulle hul stem verhef en geween.” Ek wonder maar so by myself hoe eg was daardie geween, toe hulle besef dat hulle bron van voordeel, is daarmee heen? Vir Oosterlinge is dit die normale gebruik om geweldig te huil wanneer hulle smart ervaar. Hulle huur selfs persone wat kan saam huil by begrafnisse (Barnes kommentaar). Het hulle gehuil uit opregte meegevoel en simpatie met Job of omdat hulle voorspoed daarmee heen was ...? Hoeveel van hulle gehuil was eg en watter gedeelte was bloot aansit? Selfs al die ander uitdrukkings van rou deur die drie (Job 2:12, 13), is Oosterse gebruike en seremonies.

In die gelykenis van die verlore seun (Luk. 15) het ons presies dieselfde geval. Die jongste seun moes die “vriendskap” van al wat jongmens geniet het ... totdat sy geld opgeraak het!

Ek is sommer vies vir die drie vriende van Job! Vir soveel hoofstukke het hulle hom met woorde verbrysel (Job 19:2) en hom net al dieper in die put ingepraat! Jesus, ons Rolmodel, het nie so gemaak nie. Hy het Sy lewe vir sy vriende afgelê (Joh. 15:13)! Behoort ons nie ook dieselfde  te doen nie?

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

WATTER SOORT VRIEND IS JY? (4)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

Ons sal voorwaar moet leer hoe om ander by te staan in hulle emosionele nood en behoefte aan ondersteuning in ‘n tyd van krisis. Die natuurlike mens het ‘n onvermoë om ander emosioneel by te staan. Ons word nie gebore met die vermoë of vaardigheid om ander by te staan nie. Veral mans skram weg en is sku as dit by die emosionele dinge van die lewe kom.

Meeste mense is in die wêreld soos die vriende van Job. Geen wonder dat dit ‘n spreekwoord geword het om te sê dat mense wat swak troos aanbied, is ‘n klomp Jobstroosters. Selfs Christene is nie outomaties die ideale troosters nie. Maar dis ‘n kuns wat ons as die Here se werkers eenvoudig móét aanleer.

HOE TROOS ONS NIE
  • Jy sak nie op ‘n mens toe met ‘n klomp teologie wat in ‘n oomblik van swakheid ‘n onbesonne daad gepleeg het en hou jouself so vroom asof jy die volmaaktheid self is en die stomme slagoffer die verpersoonliking is van boosheid.
  • Jy filosofeer nie oor ‘n ander se toestand soos Élifas, Bildad en Sofar, die drie vriende van Job vir ongeveerd 30 hoofstukke gedoen het nie. Ons stomme maatjie in selfverwyt en wat verwerping ervaar, het nie dan dit nodig nie. Hy kan niks daarmee doen nie. Sal jy daarvan hou dat ander allerhande slimmighede uitspreek as jou kindjie met ‘n afwyking gebore is?
  • Jy stry nie met ‘n slagoffer van verkragting nie.
  • Jy skel hom nie uit nie. Met slegsê help jy hom nie vorentoe nie maar liewer ‘n paar tree agteruit.
  • Jy argumenteer nie met ‘n vigs geval nie.
  • Om fout te vind met ‘n mens wat hartseer is en smag na ‘n bietjie warmte en aanvaarding, is so goed soos om iemand se lugtoevoer af te sny. Die foutvinderigheid van Job se vriende het later gemaak dat hy gewens het, dat hy liewer dood gebore was. Job 10:18 – Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat ‘n oog my gesien het.” 
  • ‘n Depressie lyer het nie beskuldigings nodig nie. In Job. 11: 5 sê Sofar: Maar, ag, as Gód maar wou spreek en sy lippe open teen jou!” Maar op die ou end het God nie teen Job nie, maar teen die vriende gespreek. Job 42:7 -  “Want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”
  • Jy speel ook nie regter nie.
  • Ook nie speurder nie, deur die persoon aan ‘n ondervraging sessie bloot te stel nie.
  • Dis nie ‘n tyd om verwyte rond te slinger nie. (Kyk na die opskrif bokant Job 18 in die 1933 / 1953 vertaling.)
GEBED

Here, ek wil graag ander bystaan wanneer hulle ‘n emosionele laagtepunt bereik. Leer my asb. om nie te werk te gaan soos Job se vriende nie. Amen.

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

 

WATTER SOORT VRIEND IS JY? (5)

Job 6:14 – “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.”

In ‘n vorige dorp waar ons vir die Here gewerk het, was daar ‘n vrou wat aan drank verslaaf was, wat van tyd tot tyd na ons dienste gekom het. Ek het haar besoek en probeer help. Sy het vertel, hoedat haar seun homself geskiet het. Maar by die begrafnisdiens het die leraar i.p.v. te troos haar verwyt en gewys op al haar foute wat sy as moeder gemaak het. (Dis soos sy dit ervaar het.) Ek sal nooit haar woorde vergeet nie: “Ek  het gesmag na vertroosting, maar dominee … het my soos ‘n wildsbokkie vanaf die kansel gejag.”

Kyk net na die treffende vertaling in die Message van Job 6:14 – When desperate people give up on God Almighty, their friends, at least, should stick with them.” Selfs al dien ons vriende nie meer die Here nie, dan moet ek en jy hulle nog steeds bystaan en nie verwerp in hul uur van donkerte nie! Die Here verwag dit van ons.

Ons kan by die padwedloop atlete gaan leer hoe staan jy ‘n ander by:
  • By die laaste km van die halfmarathon by Riebeek Kasteel (2010) sien ek hoe ‘n man aan die dame voor hom se T-hempie vashou en trek sy hom die laaste end. (Weet nie of dit wettig is nie.)
  • ‘n Vriend wat vir die eerste keer ‘n 21,1 km gedoen het, het vir ‘n mede hardloper langs die pad gesê: “As jy kan reël vir ‘n voertuig om my tog hier te kom optel, betaal ek jou R500.” Soos blits is daar sommer ‘n hele klomp medestryders wat om hom vergader en hom aanmoedig om klaar te maak.
Vreeslik die nuwe sêding: “Met vriende soos julle, het ‘n mens nie vyande nodig nie.” (In Namakwaland die eerste keer gehoor.)

HOE TROOS ONS?

Ek glo dat net wanneer ‘n mens self deur die smeltkroes van die lewe is, kan jy ander in soortgelyke situasies effektief bystaan (2 Kor. 1:4).

  • Woorde. Job 6:25 - “Hoe kragtig is opregte woorde.” Ps. 45:2 – “My tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.” So, sê liewer niks as jy nie weet wat om te sê en as dit nie opreg bedoel word nie.
  • Emosie en kompassie. Rom 12:15 - wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;” Mense het al gesê: “Ek kon niks van jou preek onthou nie, maar toe jy saam met my gehuil het by die graf, was dit soos balsem vir my wonde.”
  • Die taal van aanraking. ‘n Drukkie en ‘n hand op die skouer, doen dikwels meer as vele woorde.

GEBED

Here Jesus, maak my soos U. U het  opregte woorde gespreek (Joh. 7:46) en emosie betoon (Joh. 11:35) en aangeraak (Mark. 1:41). As U ‘n melaatse kon aanraak, kan ek ook. Amen!

Piet Smit 

073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Watter soort vriend is jy?
schoemans-chartered-accountants die-courant