‘n Man verloor sy werk. Dis vreeslik! Niemand wat dit nog nie beleef het, kan regtig weet hoe dit moet voel nie.
Sy vrou het ‘n biduur groepie wat ‘n sekere dag van die week saam bid. Sy deel dit met hulle en vra voorbidding. Nadat hulle gebid het sê die een bejaarde tannie: “Terwyl ons nou vir jou man gebid het, het ek net ervaar, dat ‘n jongman gaan na julle voordeur kom en vir hom werk aanbied.” Twee weke later is daar ‘n klop aan die voordeur. Toe die vrou gaan oopmaak, staan daar ‘n jongman: “Ek soek jou man, ek het hom nodig by ons firma.” Binne twee weke het hy werk! “Dis nou wel nie so ‘n goeie salaris soos by die vorige werk nie, maar loof die Here, ons is versorg!”
Nog ‘n persoon is gevra om sy pos te ontruim. Bitter, bitter, bitter!
‘n Klompie dae daarna bel ek hom. Hy is toe op pad vir ‘n werksonderhoud. Ek sê: “Kom ons bid sommer so oor die telefoon.” Ek soek ‘n kniel plekkie en ek bid met hom saam so goed as wat ek kan in geloof dat die Here vir hom guns sal verleen vir die werksonderhoud. Toe ons klaar is, sê ek in geloof: “As broer die werk gekry het, laat weet my asb.”
So tydens die middaguur bel hy my: “Pastoor se gebed het gehelp. Ek het die werk gekry!”Die Here sê in Sy Woord (Ps. 50:15): “En roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Die Here is aangeroep in die dag van benoudheid en die Here het so wonderlik die uitkoms voorsien. Nou is dit die tyd om die Here te prys en te dank vir Sy goedheid en getrouheid om in sy kinders se behoeftes te voorsien.
Laat ons die Here prys uit Sy Woord:- Ja, die Here is net goed en Sy goedheid is tot in ewigheid (Ps. 136)!!!
- Nah. 1:7 – “Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.”
- Ps. 121:1, 2 – “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”
GEBED
Dierbare Here Jesus, uit my hart sê ek vir U innig dankie vir die twee persone wat vinnig werk gekry het, nadat hulle U aangeroep het! Nou bid ek vir elkeen wat hier lees dat U hulle in hulle onderskeie beroepe en werke sal seën en dat hulle dit sal behou! As daar iemand is wat sy werk verloor het, dan vra ek dat U vir hom of haar genadiglik spoedig ‘n goeie werk sal gee. Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



