@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Twee-en-Twintig Jaar

02-god-van-baie-kanse

TWEE-EN-TWINTIG JAAR (1)
Gen. 45:26 – “Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog—en dat hy regeerder is in die hele Egipteland—het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.”
JAKOB
Sal enigiemand ooit weet wat het in die hart en gedagtes van Jakob vir 22 jaar omgegaan vandat hy die kleed van Josef wat verskeur was gesien het tot die dag dat hy die nuus verneem het dat sy seun leef as onderkoning in Egipteland? Dink aan: Die onopgeloste vrae in sy hart;
  • Die kringloop van gedagtes wat hulleself oor en oor herhaal het.
  • Die emosionele pyn;
  • Die verdriet, hartseer en verlange na Josef, sy lieflingseun (Gen. 37:3).
  • Tot selfs sy vertwyfeling in God se beskerming na dié voorval ...
Twee-en-twintig jaar is ‘n lang tyd om te loop en top met gedagtes wat nie tot rus kan kom nie. Ek onthou ‘n vrou wat ek destyds beraad het, wat nooit berusting kon kry nadat haar seun ook net spoorloos verdwyn het. Hy het saam met ‘n vriendin gaan swem by die see en hulle het op hul handdoeke op die sand in die son gelê. Die dame het ingesluimer en toe sy later wakker word, was die jongman net weg ... tot vandag toe ... Daar is nooit ‘n liggaam of ‘n kledingstuk iewers gevind nie. Wat presies gebeur het, weet niemand nie. Daar is baie bespiegel en gewonder. As hulle maar liefs die lyk van die seun kon vind, sou die moeder berusting kon vind. Sy het bly hoop: “My seun gaan op ‘n dag nog uitkom ...”

OPMERKINGS:

  • Die lewe is dikwels baie wreed en selfs God se kinders is dit nie gespaar nie.
  • Deur ander se toedoen, moet onskuldiges soms ly. In hierdie geval het die jaloersheid en die hardheid van hart van die broers van Josef gemaak dat Jakob vir 22 jaar ongekende verdriet moes beleef.
  • Maar op die ou end kom God en vergoed vir Jakob vir die jare van hartseer. Gen. 48:11 – “En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.” Efe. 3:20 – En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink.”

GEBED

Here bewaar my van ander se liefdeloosheid, maar terselfdertyd weerhou my van liefdelose optrede waardeur ander kan ly. Amen!

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

TWEE-EN-TWINTIG JAAR (2)

Gen. 45:26 – “Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog—en dat hy regeerder is in die hele Egipteland—het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.”

DIE BROERS

Moenie dink Josef se broers het dit maklik gehad nadat hulle vir Josef as slaaf op die kamele van die Midianitiese koopmans oor die rantjie sien verdwyn het nie. Hulle het vir 22 jaar gewroeg om met hulle gewetes saam te leef. Die prys wat hulle vir hulle liefdelose daad moes betaal, was op die ou end baie erger as om uiting te gee aan hulle gevoel om hom te laat boet vir die stories wat hy by hulle vader Jakob aangedra het en die jaloesie oor sy “lang rok met moue”  (Gen. 37:3) wat sy vader vir Josef alleen laat maak het en sy drome.

Telkemale as dinge daarna met hulle verkeerd geloop het, het hulle dit gekoppel aan die dag wat hulle vir Josef gebind het, in die put gegooi het, hom later as slaaf verkoop het en hulle vader bedrieg het met die geskeurde rok van Josef vol bloed. Hulle was óór sensitief en het letterlik in vrees geleef:
  • Gen. 42:21 – “Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons.”
  • Gen. 42:28 – “Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen?”
  • Gen. 44:16 – “God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.”
OPMERKINGS:
  • God het baie tyd om mense se harte sag te maak – in dié geval, 22 jaar om die broers se harte te snoei en te skoei. Mag ek sê; God sit mense met harde harte wat nie wil luister in die “drukkoker” dat hulle kan sag word vir die evangelie. Het jy geliefdes wat nie die Here wil dien nie? Ontspan, hulle is in God se “drukkoker” besig om sag gemaak te word d.m.v. druk en tyd. Al wat jy moet doen is om die temperatuur op te hou met jou gebede vir hulle.
  • Wat jy saai, gaan jy maai (Gal. 6:7) is ‘n Bybelse waarheid en beginsel wat werk van die vroegste tye. Die broers het Josef leed aangedoen en vir Jakob die uiterste verdriet. Hulle sou ook boet – die vrees om uitgevind te word, het hulle soos hul eie skaduwee agtervolg.
GEBED

Here, mag ek tog nie jaloers wees op ander wat beter as ek presteer nie. Weerhou my van ‘n vergeldingsdrag. Amen.

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

TWEE-EN-TWINTIG JAAR (3)

Gen. 45:26 – “Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog—en dat hy regeerder is in die hele Egipteland—het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.”

JOSEF

Die 22 jaar wat Josef geskei was van sy bekende omgewing; sy vader en moeder, sy broers en die grond waar hy groot geword het, moes vir hom baie pynlik gewees het.

Die episode in Potifar se huishouding het hom laat kennismaak met die harde werklikheid van die lewe. Dank God hy het daardie toets geslaag. Vele sou dit nie slaag nie.

Hy sit vir 11 jaar in die gevangenis en dan moes hy nog twee jaar wag omdat die hoofman van die skinkers van hom vergeet het (Gen. 40:23). Josef sou verseker ook sy eie lewe in oënskou geneem het en gedink het oor sy eie foute en onvolwasse optredes.

  • As hy nie gaan klik het oor sy broers by sy vader Jakob nie, sou hulle hom nie so gehaat het nie (Gen. 37:2).
  • Hy moes liewer nie sy drome vir die broers vertel het nie. Dis net lewens werklikhede; die oomblik dat ‘n mens oor jouself en veral jou prestasies praat, het jy ‘n klomp wat jaloers is. Niemand kan bekostig dat ander onnodig jaloers is op jou nie.
  • Daardie langrok met moue as geskenk aan hom alleen, was ‘n fout van sy vader. Na 13 jaar in die tronk sou hy besef; hy moes dit liewer nie aanvaar het, indien nie al die ander broers dieselfde geskenk kon kry nie.
OPMERKINGS:
  • Weereens týd  en drúk – God gebruik tyd en druk om mense se karakter te heilig en mooi te maak. Ps. 105:18,19 – “Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het.”
  • Daar was geen ander manier dat al die stryd van 22 jaar vir Jakob, die broers en Josef gespaar kon wees nie.
  • Alles werk mede ten goede vir die wat God lief het (Rom. 8:28).
  • Sien die groter prentjie en staar jou nie vas teen die detail nie (Gen. 45:5): “Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.”
  • Jou persoonlike saak is altyd ondergeskik aan die groter doel.
  • God kan jou, as jy geestelik op die regte plek gekom het, in een oomblik verhef (Ps. 105:21): “Hy (Farao) het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed.”

Gebed:

Here, U is die wonderlikste God. Alwys en volmaak in U planne. Ek buig my hart voor U! Amen!

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Twee-en-Twintig Jaar
schoemans-chartered-accountants die-courant