Ps. 141:10 – “Laat die goddelose in hulle vangkuile val, almal saam, terwyl ék verbygaan!”
Laat iemand net goed presteer en uitstyg onder sy gelykes, dan is daar talle wat jaloers is. Só was dit ook in die geval van Daniël toe hy as banneling in Babilonië verkeer het. Hy het bo al die ander ministers uitgemunt van koning Darius. Die ander ministers het geweet; daar was geen manier waarop hulle ’n vinger kon wys na sy werk, behalwe as hulle hom kon aanvat oor sy Godsdiens.
Toe konkel hulle agteraf onder mekaar, dat hulle die koning moes oorreed om ‘n wet te maak dat vir 30 dae niemand enige versoek mag rig tot enige god of mens behalwe aan die koning alleen (Dan. 6:8). Nou is dit so mooi om te sien hoe standvastig Daniël was (tussen 80 en 90 jaar oud op die stadium), want ons lees (Dan. 6:11): “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; ... en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.”
Die oortreding van die nuwe geen “gebed-wet” het beteken; leeukuil toe! Met hierdie wet het die hartelose konkelaars die koning gedruk totdat Daniël tussen die bloeddorstige uitgehongerde leeus beland het.
Maar toe die mede ministers dink dat hulle is nou van Daniël ontslae, kom die Here tot die redding van sy getroue kind! Daarom moet jy as kind van God nie verskrik raak en aan die Here ontrou raak, wanneer mense moedswillig allerlei foute by jou probeer vind om jou swart te smeer en in die moeilikheid te laat beland nie. God sien en God hoor alles! Ja, die Here slaap nie! Die Here sê vir Jakob (Gen. 31:12): “Want ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.”
Sien die prentjie: Bokant die grond wyk die slaap van die koning en weet hy nie hoe om die nag om te kry nie. Hy kon nie eens radio luister of TV kyk of iets op die internet opsoek nie. Wat ‘n nag vir die arme rustelose koning! Maar onder die grond in die leeukuil het God vir Daniël af gekordon van die leeus. Hy geniet die vrede van Fil. 4:7.
Dou voor dag is die bekommerde en uitgeputte koning al by die leeukuil (dalk nog in sy pajamas) en met ‘n droewige stem roep hy na Daniël (Dan. 6:21): “Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?”
Die koning se bekommernis word omskep in groot blydskap toe hy Daniël se stem van onderuit die leeukuil hoor en God se getrouheid uittoring! Die mooiste sinnetjie in hierdie verhaal is vers 24: “So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.”
Een ding ontbreek nog in die verhaal ... Die skurke moet nog eers “geslaan” word.
Dan. 6:25 – “En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.”
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



