@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Standhou en volhou

02-god-van-baie-kanse
STANDHOU EN VOLHOU
Ester 3:4  “En toe hulle hom dit elke dag sê, en hy nie na hulle luister nie, het hulle dit aan Haman meegedeel om te sien of die handelwyse van Mórdegai sou standhou, want hy het hulle te kenne gegee dat hy ‘n Jood was.”

Elke dag wanneer Haman deur die poort van die stad Susan van Persië beweeg het, in die dae van koning Ahasveros, het almal neergeval en voor hom gebuig. Behalwe een persoon, nl. Mordegai. Mordegai was ‘n Jood en het God gevrees en het geweier om voor enige ander persoon as sy God te buig. Hoe die ander persone hom ook al probeer oortuig het om te buig, het hy volgehou met sy lewenstyl. Toe het hulle hom gaan verklae by Haman wat kort vantevore verhoog is tot net onder die koning (Ester 3:1). Die woorde wat my opval, is waar die Bybel sê: “Om te sien of die handelwyse van Mórdegai sou standhou.” Die persone wat heeldag hom probeer oortuig het dat hy beter buig voordat sy kop rol, wou nou kyk of hy regtig so dapper is soos wat hy hom voorgedoen het. “Sal hy volhou om nie te buig nie. Laat ons bietjie sien! Dis maklik om hier voor ons in die poort groot te praat dat jy nie sal buig nie. Dis ‘n ander ding om dit in die praktyk te doen wanneer Haman hier met sy perd in koninklike swier verby beweeg en hy bewus is van ‘n man wat weier om te buig.”

In my Bybel het ek langs dié vers geskryf: “Dis wat die wêreld in ons dophou.” Of ons sal standhou om Jesus te volg tot die einde. As jy iemand is met ‘n getuienis van bekering; nl. dat jy die Here Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, sal die mense wat jou ken, jou fyn dophou om te sien hoe lank jy sal standhou met jou nuwe lewenstyl. Laat jy net iewers bietjie glip, dan sal hulle gou by wees om te sê: “Ja nee wat, ons het geweet dit sal nie lank hou nie!”

‘n Bibliotekaresse van ‘n Weskusdorpie het getuig dat iemand eendag na haar gekom het: “Ek het jou nou vir 3 jaar dopgehou. Jy was elke dag net dieselfde. Ek sien ek kan jou vertrou. Ek wil my hart vir die Here gee. Sal jy my help asb.?”

Wanneer ek aan ‘n padwedloop deelneem, is ek nie so bekommerd of ek sal klaar maak nie, maar of ek teen dieselfde pas sal kan klaar maak. Vele trek los teen  ‘n geweldige spoed, maar sak uit langs die pad. Ook in die geestelike lewe gebeur dit ongelukkig ook en dit is nie tot eer van die Here Jesus.

Job se vrou het op ‘n stadium vir haar man beskuldigend en spottend gevra (Job 2:9): “Volhard jy nog in jou vroomheid?”

GEBED

Hemelse Vader, ons sien dit so dikwels om ons; mense sak uit langs die geestelike pad. Help ons om as kinders van U stand te hou en vol te hou in ons vroomheid om U te volg! Gee ons asb. die krag, die motivering en die inspirasie deur die werking van die Heilige Gees. In Jesus se Naam bid ons dit. Amen!

PietSmit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Standhou en volhou
schoemans-chartered-accountants die-courant