In Deut. 4 is Moses besig om die volk op die vooraand van hulle intog in die land Kanaän vir ‘n laaste keer toe te spreek.
Hy vertel vir hulle van die uniekheid van hulle God. Hy noem 4 eiesoortige eienskappe wat die God wat hulle dien alleen het en geen ander volk se gode kan met hulle God kers vashou nie.
SY NABYHEID
Deut. 4:7 – “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?”
As jy ’n afgodsbeeld aanbid moet jy ‘n reis aflê om by die beeld te kom. Maar om die Here te ken, beteken, jy leef in Sy teenwoordigheid elke oomblik van die dag. As weergeborene is Hy nie net naby nie, maar ook ín jou (1 Kor. 6:19; Rom. 8:10, 11; Kol. 1:27 (NV); 1 Joh. 4:4).
SY WONDERLIKE WOORDDeut. 4:8 – “En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”
Op hierdie aarde is daar nie ’n geskrif of ’n boek wat eens naby die uniekheid en standaard en betroubaarheid van die Bybel kom nie. Op hierdie Bybelboek kan enige mens sy lewe waag en toekoms bou sonder dat jy ooit ’n fout kan maak. Deur bloot net die inhou van die Woord van God toe te pas in elke situasie van jou lewe moet en sal jy suksesvol en geseënd wees.
SY STEMDeut. 4:33 – “Het ’n volk die stem van God uit die vuur gehoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly.” Die antwoord is, nee, want elke ander afgod is morsdood en kan nie praat nie. Maar die God van Abraham, Isak en Jakob is ’n lewende God. En dat hulle nie beswyk het toe God met hulle gepraat het nie, is nog ’n wonderwerk!
SY VERKRYGING VAN SY VOLKDeut. 4:34 – “Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?” Nee, nog nooit het so iets elders in die geskiedenis plaasgevind nie.
Maar kom ons praat Nuwe Testamentiese terme: Het daar ooit so ‘n groot verlossingsdaad plaasgevind soos wat ons God gedoen het toe Hy Sy Seun gegee het om gedood te word op die grusaamste wyse sodat slegte sondaars gered kan word?
“What a mighy God we serve ...”GEBED
Liefdevolle Vader, dankie vir U nabyheid, U wonderlike Woord, dat U met ons praat en U unieke verlossings plan nl. U Seun Jesus wat in ons plek gesterf het! Lof aan U tot in ewigheid! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



