@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Nie aanstoot neem

02-god-van-baie-kanse
NIE AANSTOOT NEEM (1)
Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”
Onwillekeurig dink ek aan een van die mooiste kinders van die Here wat ek geken het nl. oom Carl Steenkamp van Calvinia. Hy het so dikwels dit teenoor my genoem dat die grootste les wat hy ooit moes leer, was om nie aanstoot te neem aan die evangelie nie.

Want almal wat die pad van die Here loop, moet weet; iewers gaan jy langs die pad teleurgestel word. Jy gaan voel: Ek is te nagekom.
  • Dinge het nie uitgewerk soos ek verwag het nie.
Dan is dit so maklik om aanstoot te neem en bitter te word dat ‘n mens sommer voel om jou te onttrek aan almal en alles. Net soos wat ‘n paartjie wat gaan trou moet hoor dat die huwelik is nie net maanskyn en rose nie, net so moet jong gelowiges ook maar hoor, dit geld óók vir die pad met die Here.

MENSE

Mense is seker die grootste bron van teleurstelling op die geestelike pad. Nie die mense buite die kerk nie – nie die skurke en die mense daar ver kan my en jou seer maak nie. Maar my broers en susters saam met my in dieselfde gemeente. Húlle het die potensiaal om my die seerste te maak. En ék het die potensiaal om húlle die diepste teleur te stel.

VALSES BINNE IN EIE KERK

Tydens ‘n vakansie staan ek by ‘n vriend buite ‘n dorp en deel hy my die volgende mee: “Presies daar waar jy nou staan, het ek gestaan. Ek het spesiaal uitgery om die persoon hier te kom ontmoet om hom by te staan in sy wankelende huwelik. Hier het ek saam met hom gebid. Hier het ek saam met hom gehuil. Sy huwelik het nie uitgewerk nie. Maar ‘n jaar later loop hy weg met mý vrou!”

Kan ‘n mens ooit weer vertroue kry in jou medemens na so ‘n skok ervaring? Dan voel ‘n mens soos wat Jeremia moes voel. Jer. 9:4 – “Pasop  elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; elke broer is net ‘n onderkruiper en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.” Stel jou vir ‘n oomblik in sy skoene. Hy verloor o.a. sy bediening. Duisende sou aanstoot geneem het en sou hulle rug op die kerk en op die Here gedraai het en sou gevra het: “Kon die Here wat ek dien dan nie my huwelik beskerm het nie?”

Prys die Here! My vriend het nie aanstoot aan Jesus geneem nie! Hy dien vandag nog die Here met net soveel oorgawe!

 Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (2)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

WANNEER OMSTANDIGHEDE NIE UITWERK

Vele het in die verlede aanstoot geneem wanneer dinge nie uitgewerk het soos wat hulle dit graag sou wou hê nie.

‘n Pastoor wat al oorlede is, het by geleentheid vir my vertel hoedat hulle in ‘n seker dorp vir die Here gewerk het. Hy het ‘n goeie beroep in Kaapstad beoefen en gevoel die Here het hom geroep om te preek en derhalwe sy beroep laat vaar vir die bediening. Dit was in die ou dae; die gemeentetjie baie klein en die inkomste karig. Ek onthou hy het vertel dat sy traktement was £16 in die maand. Alhoewel dit baie meer werd was as die geld waarde vandag, kon hulle as gesin op geen manier daarmee uitkom nie. Aanvanklik kon hy homself dra. Maar na baie worstelinge met die Here en met homself moes hy eenvoudig oppak en weer terugkeer Kaapstad toe - terug na ‘n sekulêre beroep. So hartseer en ongelukkig as dinge so moet eindig. Vele sou aanstoot neem.

Langs die pad het hulle onder ‘n boom gestop en het hulle met oorgawe gesing: “Ek weet die Here maak ‘n weg vir my ...” Hy het nie aanstoot geneem aan die evangelie nie en die Here het etlike jare later weer vir hom ‘n deur geopen om voltyds vir Hom te werk. (So terloops, hy was my eerste pastoor.)

John G. Lake is in Pinkster en Charismatiese kringe alombekend vandag. In 1908 kom hy met sy gesin saam met Thomas Hezmalhalch en ‘n klein gevolg as sendelinge na S.A. waaruit die A.G.S. ontstaan het. As jy nie kennis dra oor John G. Lake, kan jy gerus op die internet meer oor hom gaan lees. Die Here het hom buitengewoon kragtig gebruik in die bediening van wonders en tekens. Maar sy vrou sterf enkele maand na hulle koms na S.A. In sy dagboek skryf hy op Kersdag 1910: “What memories sweep my soul today, overwhelmed at the remembrance of my darling wife’s death. I laid down and God permitted my tears to flow freely ...” (Geloofs Geskiedenis van die A.G.S. van S.A. – dr. Isak Burger, 1987, p. 147)

Jare gelede moes ek ’n begrafnis hou van ‘n baba wat maar 4 maande oud was wat in die wiegie dood aangetref is. So hartseer en tragies; dit roer my hart tot vandag toe.

Nie al die ervarings en ondervindings van gelowiges hier op aarde het ‘n “happy ending” nie. Die “happy ending” is in die hemel in die hiernamaals.

As jou omstandighede tans so is dat jy ook voel, “dinge het nie vir my uitgewerk soos ek gedink het nie,” onthou vele ander is daardeur en het nie aanstoot geneem aan die Here nie. Jou ware gelukkige einde is saam met Jesus in die hiernamaals!

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (3)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

VOEL DIS NIE DIE MOEITE WERD NIE

Jy sit so baie in, maar jy kry so min terug. Jy sloof jou af terwille van die Here in die geloof dat dinge sal verbeter en reg kom, maar dinge kom net nie reg nie.

Hoeveel getroude vroutjies beleef dit nie? Hulle mans is ongered en dien nie die Here saam met hulle nie. Hulle doen alles wat hulle kan om hul mans by die Here te kry. Hulle staan spesiaal vroeg op om vir hulle mans te bid. Hulle vas en doen die byna bomenslike om hulle mans te behaag, sodat hulle uiteindelik na Jesus sal kom. Jaar in en jaar uit, maar niks gebeur nie.

Iewers langs die pad wil-wil die moedeloosheid jou oorval. Jy’s sommer lus en los alles:

  • Gaan nie meer kerk toe nie.
  • Bid en vas nie meer nie.
  • Dien nie meer die Here nie, want dit lyk dan dit help nie ...
Dis seker ook hoe Johannes die Doper op ‘n stadium moes voel. Hy’t alles opgeoffer vir die Here. In die woestyn van Judea het hy opgetree en soos ‘n askeet geleef terwyl hy gepreek en die hordes wat aan die begin na sy bediening gestroom het gedoop het in voorbereiding op die koms van die Messias (Mat. 3). Hy waag dit selfs om vir Herodus aan te spreek oor die vrou van sy broer met wie Herodus saamgebly het (Luk. 3:19) en daaroor word hy opgesluit soos ‘n misdadiger. Ewe skielik het sy bediening tot ‘n stilstand gekom en na maande se afsondering in ‘n donker kerker van rotte en luise wat byt, begin selfs hý te twyfel. D.m.v een van sy lojale volgelinge kry hy dit reg om ‘n boodskap na Jesus deur te stuur (Mat. 11:3): “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?

Om te dink dat selfs Johannes die Doper getwyfel het en gewonder het of dit die moeite werd is. Die persoon van wie Jesus gesê het (Mat. 11:11): Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie.” (Groter as almal voor die kruis van Jesus.) Vir my persoonlik is dit ‘n geweldige troos en bemoediging dat die grootste uit die Ou Bedeling ook gewonder het, is dit die moeite werd ...

Maar hoor Jesus se antwoord spesifiek aan die adres van Johannes en ook vir my en jou (Mat. 11:6): “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (4)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

DIE ROL WAT DIE DUIWEL SPEEL

Kyk, as daar nou één ding is wat die duiwel goed kan doen, dan is dit om my en jou wys te maak die Here het ons “gedrop.”

  • “Sien jy nou, die Here het Sy rug op jou gedraai.”
  • “Sien jy, die Here het jou vergeet.”
  • “Die Here gee nie regtig vir jou om nie, want dan sal jy mos nie so gely het nie.”
  • “Sien jy nou, die Bybel werk nie vir jou nie.”
  • “Die Here hoor nie jou gebede nie.”
Het jy óók al so gevoel nadat jy iets probeer het en dit toe misluk het?

Maar ek sê: “Prys die Here, gelukkig is dit nie die waarheid nie! Dit mag so lyk en selfs so voel, maar dit kan nooit die waarheid wees nie, want in Ps. 27:10 sê God se Woord wat nie kan lieg nie: “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.”

Hoe lieflik as ‘n mens in sulke oomblikke jouself met die Woord, in die Here kan versterk en tekste kwoteer en oor jou lewe en situasie bely:
  • Heb. 13:5 – “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
  • Mat. 28:20 – “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”
  • Jes. 41:10 – “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”
Almal kan jou die rug toe keer maar nét nie die Here nie!!!

‘n Dame stuur my ‘n sms: “Ek het vooraf gevas en gebid en toe vir mense gaan bid, maar niks het sigbaar gebeur nie. Hoe moet ek daaroor voel en dink?” Ek sms net die volgende aan haar terug: “Moenie aanstoot neem nie – Mat. 11:6.”

GEBED

Dierbare Here Jesus, verlos my vandag van hierdie gevoel van hopeloosheid, neerslagtigheid en mismoedigheid. Vul my hart en lewe met U Goddelike krag! Kom deur die Heilige Gees en laat U Woord van hoop my lewe oorheers. In Jesus Naam, amen!

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (5)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

WANNEER ‘N MENS VOEL DIE EISE VAN DIE HERE IS ONVERSTAANBAAR OF NET TE HOOG

Waar het Abraham se gedagtes gaan draai toe die Here met die opdrag van Gen. 22:2 kom: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”

Duisende, nee miljoene, nee miskien moet ons sê, almal sou aanstoot neem. Tog het Abraham nie. Miskien vra die Here iets anders van jou. Hoe antwoord jy? “Nee, Here, nou gaan U darem te ver! Moenie van my dít verwag nie!” God weet wat tussen Hom en jou staan ...

Daar’s die dissipels van Joh. 6 toe Jesus sê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” (vers 53) Die Bybel sê (Joh. 6:60): “En baie van Sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? Vers 66: “Hieroor het baie van Sy dissipels teruggegan en nie meer saam met Hom gewandel nie.” Hulle het aanstoot geneem.

WANNEER JOU GEBEDE NIE VERHOOR WORD NIE

Of as dit nie verhoor word soos jy dit wou gehad het nie. So ‘n geval het ons in Hag. 1:9 – “Julle het uitgesien na baie, en kyk dit het min geword;”

Vers 6: “Julle het baie gesaai, maar min ingebring.”

‘n Tyd gelede het ek die vreeslikste mangel ontsteking. Normaal weg gebruik ek nie medikasie neem. Ek vertrou die Here vir genesing. Maar dit hou aan en aan hoe ek ook al bid en ander vir my bid. Ek kan nie sing nie en preek met die grootste moeite. Wanneer ek moet sluk voel dit, dit skeur hier in my keel uitmekaar uit. Vir 4 volle dae hou dit so aan. Ek gebruik later medikasie en enige raad en middel wat enige een wat verby kom het, net om die pyn te oorkom. Om dán nie aanstoot te neem aan die Here of die evangelie is genade!

Vir 14 dae is Paulus op ‘n skip met ‘n storm wat hulle lewens bedreig (Hand. 27). Vir 14 dae sien hulle nie eens die son of die sterre in die nag nie (vers 20). Dink jy Paulus sou nie bid en roep na die Here so wat hy kan terwyl sy eie lewe en die van ander bedreig word nie? Natuurlik het hy gebid met mag en mening. Hoeveel wonderlike gebedsverhoring het hy nie in die verlede gehad nie! Maar hierdie keer hou die storm aan en aan en dit lyk ook asof God nie sy gebed verhoor nie. Eers na 14 dae verskyn ‘n engel aan hom om hom moed te gee (Hand. 27:24): Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.” 

Paulus het nie aanstoot geneem toe sy gebede nie verhoor is soos hy dit wou hê nie. En jy ...?

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (6)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

HOEKOM NEEM MENSE AANSTOOT

Jare gelede in ‘n vorige gemeente was daar ‘n seker persoon wat kwaad was vir almal en alles. Hy’s kwaad vir sy vrou en vir almal in die gemeente en seker ook vir homself. Hy’t aanstoot geneem en het nie kerk toe gekom nie.

Toe breek die einde van die jaar aan en almal wat deel was van die AGS naby die Kaap, stroom na Pinkster Park in die Strand waar ons jaarliks ‘n wonderlike konferensie gehou het. Dié spesifieke jaar was oorlede past. Phillip Gerber die hoofspreker. Die Here het hom baie wonderlik gebruik in die gawes van die Heilige Gees, veral wat ‘n woord van kennis betref (1 Kor. 12:8) en het die mense vorentoe geroep soos die Here aan hom geopenbaar het en hulle dan bedien deur die leiding van die Heilige Gees.

Die konferensie was al ‘n paar dae aan die gang toe ek een aand net voor dienstyd verneem dat daardie gesin van wie ek jou nou vertel het ook aangeland het op Pinkster Park. Soos die gebruik was, het ons ‘n uur voor die aanvang van die aanddiens begin bid in die bidkamer vir die diens van die aand. Ek het twee dinge vir die Here gevra. Dat die broer sal diens toe kom die aand. Dit alleen sou al reeds ‘n groot wonderwerk wees. Verder het ek gevra dat die Here daardie aand vir past. Gerber sal gebruik om die broer vorentoe te roep om die ding wat verkeerd is in sy lewe te openbaar.

Terwyl ons as pastore op die verhoog ons plekke ingeneem het, kon ek nie help om die broer heel agter in die gebou te sien nie. In my hart het ek geprewel: “Ag, dankie Here!” Past. Gerber was so ‘n tyd aan die gang toe hy mense begin uitroep en hy sê vir past. Johan Roos om daardie broer daar agter in die saal te gaan haal. So gebeur dit dat hy die broer tot op die verhoog roep en luister nou die woorde wat past. Gerber gebruik het: “Hier staan ‘n man wat diep teleurgestel is in die lewe (en LW), want hy het sy oë van die Here afgehaal en na mense begin kyk.” (Heb. 12:2)

Is dit nie waar nie? Is dit nie die wese van ons probleem nie? Ons haal ons oë van die Here af en begin kyk na mense of die omstandighede.

Mense gaan altyd teleurstel en omstandighede sal nooit presies wees soos ons dit begeer nie. Maar Jesus stel nooit teleur nie! Hy is die beste! Hy kan nie verbeter of verander nie, want Hy is klaar die beste en volmaak!

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

NIE AANSTOOT NEEM (7)

Mat. 11:6 – “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”

Dis wanneer die aanstootverwekkende omstandighede op jou toesak dat jy jou oë vas genael op die Here Jesus moet hou en weier om na die omstandighede te kyk! Dis dán wat jy moet sê:
  • Here, al verstaan ek nie;
  • Al weet ek nie wat nou aan gaan nie.
  • Al verstaan ek niks nie!
  • Maar ek sal nie op my gevoel vertrou nie.
  • Ek vertrou op U!
  • U sal vir my stry!
  • U sal my nooit verlaat nie.
  • God is vír my!
  • Die Here bly goed!
Dis dan dat jy nie moet gaan lê nie, maar opstaan en vorentoe beur. Moenie onder die besembos gaan lê soos ‘n Elia nie. Kwoteer elke Bybelvers wat jy ken oor jou omstandighede.

Hierdie eie gemaakte liedjie het my self en vele al gehelp:

Ek was platgeslaan,

Maar ek gaan weer aan.

Jesus gee my nuwe moed.

Nou’s ek weer op spoed!

Wanneer die aanstote kom, werp jou teen alle omstandighede op die Here. Word desperaat vir die aanraking van die Here soos:
  • Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en gesê het (Mat. 9:21): “As ek maar net Sy kleed kan aanraak.”
  • Die Kananese vrou wat vir Jesus gesê het (Mat. 15:27): ”Die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”
  • Job wat onder sy onvergelyklike haglike omstandighede nóg gesê het (Job 13:15): - “Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom.”
  • Abraham van wie ons lees in Rom. 4:18 dat “Hy het teen hoop op hoop geglo …” (teen alle verwagtinge).
GEBED:

Here, menigte het afvallig geword omdat hulle op een of ander stadium aanstoot geneem het. Maar Here, ek weier dit in die Naam van die Here. Ek weier om my blind te staar teen omstandighede of mense. My oë hou ek op U gevestig vir die uitkoms tot die einde toe! Amen!

Piet Smit

073 447 2902

(K) 022-4872200

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church Nie aanstoot neem
schoemans-chartered-accountants die-courant