Een Ding Is Nodig (vervolg)
Die Bybel noem dit telkens in die Ou Testament dat die aanbidders van die afgode word soos dit wat hulle aanbid.
2 Kon. 17:15 – “En hulle het ... agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword.”
Jer. 2:5 – “So sê die HERE: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?”
Mens word dit wat jy aanbid. Die wat die modes van die dag aanbid, lyk netso. Die wat geld agterna jaag, se lewens is omvat met geld. Die wat sport najaag kan oor niks anders praat nie. So ook ons as ek en jy al dag aan Jesus se voete sit en na Hom opkyk.
Jy word soos die Een aan wie se voete jy sit ... Jy kyk met Sy oë na ander mense. 2 Kor. 5:16 sê: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie.” D.w.s. ons kyk nie meer na mense soos wat die wêreld na mense kyk nie. Die wêreld meet mense aan die uiterlike en wat hulle besit om op ‘n manier voordeel daar uit te trek.
Maar wanneer ons soos Jesus word, omdat ons dag vir dag aan Sy voete sit, kyk ons met geestelike oë na ander. Ons kyk met evangelise oë. Met oë van genade deur die bloed van Jesus. Jy sien mense se potensiaal en nie hulle foute raak nie. Wanneer gebeur dit? As ek sit aan Jesus voete …
Dit Moet Ons Lewenswyse Word
Om dit vir jou ‘n groter werklikheid te maak; stel jou voor elke keer wanneer jy Bybel lees, jy sit aan die voete van Jesus. Kniel as dit moontlik is en lees die Bybel vir afwisseling in ‘n knielende posisie. Maar heeltyd sien jouself asof jy by Sy voete kniel. Onthou Jesus is alomteenwoordig (Mat. 28:20), dus ís Hy daar by jou.
Wanneer jy daar opstaan stel jou voor jy is nog steeds aan Sy voete. Al spit jy met ‘n graaf in die tuin en kap jy met ‘n pik, is dit moontlik om in die gees, steeds aan Jesus se voete te sit. Al neem ons deel aan sport en doen ek en jy beroepswerk, kan ons ingesteldheid steeds wees asof ons aan Sy voete sit.
So ‘n ingesteldheid sal ons bewaar van sonde en die vleeslike.
GEBED
Wonderlike Here Jesus, hoe kan ek ooit weer gaan vir tweede beste as ek by die beste gekom net, nl. om aan U voete te sit.? Ek wil vir altyd daar bly! Ek maak dit my permanente woonplek. Amen!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



