@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

'n Ou boompie met splinter nuwe blare

02-god-van-baie-kanse
‘N OU BOOMPIE MET SPLINTER NUWE BLARE
(Louisa Zimmerman)
Ek het my hart baie jare gelede reeds vir die Here gegee net nadat my dogter gebore is, in 1989. Die aardse dinge het my begin insluk en ek het begin om aan "ontrekking" te ly in my geestelike lewe. Dinge het begin skeefloop in my huwelik reeds as gevolg van my kinderloosheid (ons dogter was aan ons geskenk deur 'n ongehude moeder). Ek het skuldig begin voel dat ek nie vrou genoeg was om vir my man sy eie kind te gee nie. Ons huwelikslewe het begin verbrokkel en in die tyd was ek baie ver van God af; ek het probeer staatmaak op my eie kragte. Na 'n huwelik van sewentien jaar is ons geskei. Dit wat ek die graagste wou gehad het,  'n kind, het ek gekry, maar ek moes my huwelik daarvoor inboet.

Die skade wat kinderloosheid en al die behandeling om swanger te raak het 'n permanente letsel op ons huwelik gelaat wat onherstelbaar was,  mense wat nie dieselfde hel van onvrugbaarheid deurgegaan het nie, sal dit dalk moeilik verstaan.As ek maar net vir God geken het en gevra het om ons te help gedurende daardie donker tye, sou my lewe dalk anders gewees het. Na my egskeiding was ek kwaad vir God; kwaad vir myself en ek het my onttrek van alles en almal. Ek was inworsteling met die Here.  Ek het myself afgesonder vir amper ses jaar en het soos Job gevoel. Dit het vir my gevoel dat God my permanent verlaat het. My lewe was werk toe en huis toe. In die ses jaar was ek weer vir een jaar terug na my man toe om te kyk of ons huwelik dalk kan herstel, maar dit was vir al die verkeerde redes en ek het besef die kraak in die pot is te groot en die skade was onherstelbaar.

Ek was 'n wandelende gees, ek het staatgemaak op anti-depresante medikasie wat 'n groot deel van my lewe weg gevat het - ek was in 'n mate gebind met depressie. Daar is dae wat ek glad nie kon onthou nie, genadiglik het 'n engel (vriendin) gekom en die pille afgespoel in die drein en dit was die begin van my herstel. Ek het weer begin om God vir vergifnis te vra, kerk toe gegaan, Bybelkampe bygewoon en ook by 'n selgroep aangesluit. As ek nou terug kyk, het God my nooit maar nooit in daardie donker tye ooit verlaat nie, maar ek was doof; ek kon Hom nie hoor nie. My geloof het weer begin "afkoel" en ek was 'n gevangene in 'n geestelike tronk. Alhoewel ek kerk toe gegaan het, gebid het en ook Bybel gelees het, was ek 'n lou-warm Christen.

In my huidige huwelik was ek kort-kort plat geslaan deur teëspoed, en wanneer ek op my knieë was voor God, het Hy my weer opgetel en wanneer dit weer beter gaan het, het ek maar weer probeer om op my eie kragte aan te gaan.

Ek het my weer bekeer op die 22ste April 2011, tydens die nagmaal met die kruisiging van Jesus in die AGS Corpus Christi, Malmesbury.

Die dag met die gemeente bergklim, het ek 'n boompie gesien wat op 'n stuk harde klipgrond probeer groei het, sy wortels was bo die grond en ek kon sien die wind en son hom baie verniel het, en dat hy besig was om weg te kwyn. Ek kon nie help om daaraan te dink dat die boom my lewe vir my uitwys nie; ek was ook so 'n boom wat op my eie kragte staat gemaak het, maar genadiglik het 'n rukwind my los gewaai tot tussen die proteas en fynbos tot op die vrugbare grond. Dit was toe Jesus gekom het en my losgekoop het uit my geestelike tronk. Hy het nie vir my vryheid betaal met geld of goud nie, maar met Sy kosbare bloed. God het my wortels verplant diep in die vrugbare grond en dit daar vas geanker aan 'n stewige fondasie wat God is. Ek kry my kos uit die kerk en die Woord. Bedags skuil ek nog in die koelte van God se genade om sterker te word teen die son, en snags is my wortels diep weggebêre onder die vrugbare grond waar geen wind my kan losruk of koue my wortels kan skroei nie. En ek wil groei tot 'n groot boom waar baie mense onder my koelte kan kom sit, sodat ek hulle kan vertel wat se wonderlike God ons het en ek gee Hom al die Eer!

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook

You are here: Church 'n Ou boompie met splinter nuwe blare
schoemans-chartered-accountants die-courant