Ek meen dat Paulus die persoon was wat die naaste ooit aan Christus geleef het. Ja, dis ‘n geweldige stelling om te maak en mens voel amper jy doen nie reg aan al die ander gelowiges wat deur die eeue Jesus nagevolg het nie. Maar deur bloot net na die Skrif te kyk sien ons dit. Hy skryf 13 boeke van die Nuwe Testament, Hebreërs uitgesluit. As skrywer het hy die grootste invloed op al die gelowiges ooit gehad. Alles wat ons weet van regverdigmaking deur die geloof het ons van hom geleer. Jimmy Swaggart sê van Paulus: “Paul is the greatest example of Christ, Christianity could produce.”RADIKALE OMKEER
Sy bekering was nie vaag of geleidelik nie. Maar radikaal, soos dag by nag. Gal. 1:23 – “hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei.”
Onthou hy was ‘n Fariseër en ‘n yweraar vir die Joodse kultuur en tradisie. Hy het selfs bo sy tydgenote uitgemunt en was ‘n groot vervolger van die Christene. Gal. 1:14 – “en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders”. Hy was bereid om so ver as Damaskus te reis om die Christene te vervolg en uit te roei (Hand. 9:2). So geweldig was sy haat en afsku en renons in die nuut gestigte Christendom.
Maar toe Christus hom tref,toe moes hy besef,
as hy sonde bely
maak die Here hom vry!
Met dieselfde passie waarmee hy die Christelike geloof vervolg het; met dieselfde passie het hy dit nou aangehang en verkondig as die enigste egte weg na die hemel!Sy bekering was volkome en volledig. Hy hoef nie nog later goed af te gelê het nie, wat net weer bewys, daar is nie so iets soos ‘n geleidelike wedergeboorte nie.
Wat is die geheim van hierdie radikale omkeer van die man met die naam van Paulus (toe nog Saulus)?Kyk na vers 5: “Wie is U, Here?”
Kyk na vers 6: “Here, wat wil U hê moet ek doen?”
In vers 5 staan “Here” laaste. En dit spreek vir my van hoe sy lewe was vóór sy bekering. Die Here Jesus was laaste in sy lewe. Maar ná sy bekering staan “Here” eerste. Ná sy bekering was die Here Jesus eerste in sy lewe.
Jy sien, as Jesus regtig eerste is in jou lewe, dan lyk jou lewe en blom jou lewe vir Jesus soos die van Paulus!Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (2)
Paulus het drie passies in sy lewe gehad wat hom gedryf en gemotiveer het.SY PASSIE OM JESUS TE KEN
Fil. 3:10 – “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,”
Dis moontlik dat ‘n mens baie kennis van God en Sy gebod kan hê sonder dat jy Hom ken! D.w.s. dis moontlik dat ‘n mens baie teologiese kennis van God kan hê, maar jy is nog nie weergebore nie. Job sê iets soortsgelyks (Job 42:5): “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.”
Daar is vandag baie kennis vrylik beskikbaar oor letterlik enige onderwerp. Met TV en internet, is niks meer vir enige iemand verborge nie. Jy kan alles oor enige onderwerp binne ‘n paar minute opspoor op die groot biblioteke van internet. Baie predikers en kollegas het dit al teenoor my genoem dat jy durf nie waag om ‘n fout te maak in jou preek materiaal nie, want jou gehoor is blitsig om dit te gaan toets aan die hand van die inligting op internet beskikbaar. En tog met al die inligting beskikbaar, ken vele nie die Here nie. Hulle het Hom nog nooit persoonlik ontmoet en Hom in hulle lewens toegelaat en ‘n pad in gehoorsaamheid agter Hom begin aanstap nie. En daar is ‘n hemelsbreedte verskil om bloot net kennis te hê en om die Here Jesus te ken as Redder!
Dis daardie “ken” waarvan Paulus gepraat het. Daardie God wat Homself aan hom op die Damaskus pad genadiglik geopenbaar het, wou hy beter leer ken. Nou dat hy gered was, wou hy die Here Jesus beter leer ken vanuit ‘n wedergebore posisie en verhouding.- Sy Goddelike natuur;
- Sy stem;
- Sy karakter;
- Sy getrouheid;
- Sy volle verlossing werk en die krag daarvan in elke faset van sy lewe.
- Sy oneindige liefde en vergifnis en elke onuitputlike aspek van God.
Daarom moet ons as gelowiges tyd met die Here deurbring in gebed en Woordstudie. Jou hele lewensreis word een groot avontuur met Jesus, waarin jy Hom leer ken. Nie deur hoor sê, wat ander in boeke oor Hom sê nie. Maar eerstehands, van aangesig tot aangesig, mond tot mond (Exod. 12:8).
‘n Lewenstaak en roeping: “Om Hom te ken.”Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (3)
SY PASSIE OM JESUS TE VERHOOGFil. 1:20 – “volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.”
Fil 1:21 – “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”
Op hierdie stadium is Paulus ‘n gevangene in die tronk van Rome. Dis tussen die jaar 60 tot 62 na Chrsitus. Sy saak het nog nie voor die keiser gedien nie en hy weet nie wat die uitkoms sal wees nie. Maar dit het nie regtig vir hom saak gemaak wat die uitkoms sou wees nie.Sou hy die doodstraf kry dat die keiser beveel dat hy onthoof moes word, dan was hy oortuig dat die Here Jesus hom sou bystaan dat hy die dood met so ‘n gesindheid sou tegemoetgaan dat Christus daarin verheerlik sou word. Sy passie: “Dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.” Sy gesindheid was: As sy dood vir Jesus tot groter heerlikheid sou wees, dan is dit reg so.
Die dood sou natuurlik in ‘n seker sin die maklikste uitweg wees, want hy’s immers gered en die dood is grade dag! Dis om net oor te stap en vir ewig by die Here te wees. Hy sê dit ook in soveel woorde (Fil. 1:23): “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verrreweg die beste.”
Maar sou die keiser besluit om hom los te laat, dan het dit vir hom beteken om met groter ywer en passie net voort te gaan met die goeie werk van die Here as kerkplanter, evangelis en prediker.
Dink vandag aan die man met die naam van Paulus. Het jy stryd en teenkanting? Paulus se stryd was groter as joune en terwyl hy die dood kon verwag as gevangene, het dit hom nie afgesit nie. Sy passie was steeds om Christus groot te maak in dood of in lewe!GEBED
Here gee my ook die gesindheid om U vandag groot te maak in dood of in lewe! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (4)
SY PASSIE OM JESUS TE VERKONDIG ONGEAG DIE TEENSTANDWat maak ek en jy as mense ons met klippe bestook? Met die eerste klip hardloop ons dat die stof so staan en as ons ‘n veilige afstand bereik het dan skree ons met ‘n huil stemmetjie terug: “Ek gaan net ‘n bietjie vir my ma sê!”
Maar nie Paulus nie. In Hand. 14 terwyl hy besig was om die evangelie te verkondig, stenig hulle kom. Hulle het sy liggaam tot buitekant die stad gesleep en dit daar gelos met die gedagte dat hy dood was en dat hulle nou ontslae was van hom. Maar God het hom opgewek terwyl die dissipels hom omring het. Maar hy vlug nie weg met groot vrees vir wat hulle aan hom gedoen het nie of oor wat hulle weer aan hom kan doen nie. Hy gaan terug na Listre, die stad waar dit alles plaasgevind het. Daarna gaan hy na ‘n naburige stad en verkondig die evangelie ook daar en toe hy klaar is, keer hy terug na Listre, waar hy van te vore gestenig is.Hoe maak die moderne kerkmense? By die eerste onvriendelike gesig of as iemand die persoon per ongeluk nie gegroet het nie: “Ek sit my voete nie weer daar nie!”
Marteling het Paulus nooit afgesit om vir die Here te werk nie.Die naaste wat ek aan marteling gekom het, was tydens die ontgroening in die koshuis op Onderwys Kollege. As eerstejaars was dit deel van die inlywing: Ons moes voor die res van die koshuis studente met ‘n PT broekie op die gras verby kruip terwyl elkeen met ‘n tekkie of plakkie of skoen ons ‘n hou geslaan het, so hard as wat hy kan. Vir dae kon ons nie sit of as een net per ongeluk stamp teen jou boud, het jy in die lug geklim. Klink dit erg? Nie as jy Paulus se verhaal lees in 2 Kor. 11:24-26:
2 Kor. 11:24 – “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.”2 Kor. 11:25 – “Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—“
2 Kor. 11:26 – “dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;”
Het hy teruggedeins? Hoor wat antwoord hy (Hand. 20:24): “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.”
GEBED
Here, gee my ook hierdie gesindheid om net voort te gaan om vir U te leef ongeag watter teenstand! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (5)
PAULUS WAS ‘N TEVREDE MENS
Weet jy hoe skaars het tevrede mense in ons dag geword? So baie is ontevrede. Hulle behoeftes is so ingewikkeld en niks en niemand kan hulle tevrede kry nie. Wat vandag goed is, is môre nie meer goed genoeg nie. Hulle vind net altyd nuwe behoeftes wat versadig en vervul moet word. Hulle laat my dink aan die lied van jare gelede van die Rolling Stones: I Can Get No Satisfaction.
As jy die waarheid oor jouself wil hoor, het iemand gesê, dan moet jy trou. So vertel mnr. Bertram Friend dat hy hoor eendag sy vrou en ‘n vriendin gesels met mekaar oor hulle mans. Hy kon nie help om te hoor wat hulle sê: “Om my man tevrede te kry, is half onmoontlik. Hy het die mees ingewikkelde behoeftes.”Daarop antwoord mnr. Friend se vrou: “My man se behoeftes is so eenvoudig. Al wat hy in die oggend begeer, is ‘n bietjie kookwater vir koffie en ‘n ou hoekie waar hy kan gaan bid en Bybel lees.”
Paulus staan tereg voor Festus die goewerneur en voor koning Agrippa. Stel jou voor na soveel ontberinge en komplotte deur die Jode en vir twee jaar in die tronk in Cesarea, moes hy uiterlik nie baie goed vertoon het nie. Uitgeteer en verswak na die liggaam, staan hy en verdedig homself. Maar dan sê hy die volgende (Hand. 26:29): “Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie.” Dis asof niks van slegte omstandighede hom pla nie. Dit lyk amper asof die boeie hom ook nie eens hinder nie. Hy het iets wat die goewerneur en die koning nie het nie. Hy ken vir Jesus, wat sy algenoegsaamheid is!Luister net na hom in sy brief aan die Filippense (Fil.4:11): “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.” Miljoene rykes met miljoen maal meer aan aardse besittings as wat Paulus ooit gehad het, kan nie saam praat nie!
Hoor hom in 1 Tim. 6:8 – “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” Die Living Bible gebruik die woorde: “well satisfied.” D.w.s meer as tevrede! Die meeste mense wat hier lees het meer as voedsel en klere. Nou vra ek: Is jy ‘n “meer as tevrede mense”?
GEBED
Ag Here Jesus, werk deur U Gees daardie tevredenheid en vergenoegd ook in my hart, wat in die hart van Paulus was. Leer my om te waardeer wat ek tans het. Leer my ook dat materiële dinge bring nie versadiging nie. Maar om U te ken is meer as om die wêreld te wen! Om gered te wees, is die grootste fees! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (6)
SY NEDERIGHEIDDr Andrew Muury het gesê: “Nederigheid is die sieraad van heiligheid. As jy nederig is, het jy alles.”
Die gesindheid: Ek hoef nie gesien, gehoor, van geweet te wees nie. In die Koos du Plessis idioom: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is my geleen.”Ek is niks, het niks, kan niks en weet niks. Maar ín Christus Jesus wat my die krag gee, tot alles in staat (Fil. 4:13)!
Kom ons ondersoek die man met die naam Paulus se hart en kyk wat het daarin geleef. Hy van wie ek aan die begin gesê het dat hy seker die naaste aan God geleef het van almal na die kruis van Jesus.Hier is ‘n paar van sy aanhalings wat hy oor homself sê:
- 1 Kor. 15:8, 9 – “En laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene. Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.” (Lees dit asb. weer en bepeins die beskeidenheid van hierdie man se hart voor God en mense.)
- Efe. 3:8 – “Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,”
Die man wat deur God die meeste gebruik is in die Nuwe Testament, sê hierdie dinge oor homself. Hy besef volkome dat vanaf sy redding op die Damaskus pad (Hand. 9) tot waar hy deur God gebruik is om wonders en tekens te bedien (Hand. 15:12) en dooies op te wek (Hand. 20:9-12) en om aan die gemeentes te skryf, het niks met hom te doen nie. Dis alles en nog maal alles is die Here!!! Daar is nie eens iewers die geringste aanduiding dat hy homself wou verhoog of in ‘n pos wou indruk nie. Nêrens probeer hy om die kalklig te steel nie. Hy laat val die volle rykdom van eer en van krag altyd net op Christus Jesus!
Sy hart was soos die hart van Sy Heer, want hy sê (1 Kor. 11:1): “Wees my navolgers soos wat ek dit ook van Christus is.”GEBED
Here Jesus, U kind Paulus steel ons hart, want hy is ‘n spieëlbeeld van Uself. As gelowiges wil ons sulke volgelinge van U wees. Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (7)
HY HET DIE WEDLOOP VOLEINDIGAlmal kan heel gemaklik by die wegspring punt van die jaarlikse Comrades in Durban of Pietermaritzburg aantree. Maar nie almal maak dit tot by die einde binne die afsny tyd nie.
Nie almal wat begin op die geestelik pad maak klaar nie. Vele sak ongelukkig uit langs die pad. Vele wat so vurig begin het, sak ongelukkig ook uit.Ek onthou die wedloop waaraan ek deelgeneem het as ‘n onervare padwedloop atleet, wat met ‘n afdraand begin het. Ek het gans te vinnig begin en vir 7 km by die voorstes gehou. Maar toe voel dit ek beswyk! My keel en bors het gebrand asof daar vuur in gemaak word. Toe moes ek die res van die wedloop ombid om dit net tot die einde te maak.
In die 2000 Comrades was Donovan Wright die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep (4de in die wedloop). So dankbaar was hy, dat hy voor die wenstreep gekniel het en eers gebid het om dankie te sê sonder om hom te skaam ten aanskoue van duisende mense.Naby aan die einde van Paulus se lewe het hy sy lewe soos volg beskryf:
2 Tim. 4:6 – “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby.”
2 Tim. 4:7 – “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”
2 Tim. 4:8 – “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.”
Twee van die Engelse Vertalings is pragtig:
2 Tim 4:7 (Message) – “This is the only race worth running. I've run hard right to the finish, believed all the way.”
2 Tim. 4:7 (Good News) – “I have done my best in the race, I have run the full distance, and I have kept the faith.”
Van die mooiste dinge wat oor enige mens se lewe gesê kan word is nl.: “Soos wat hy of sy begin het, so het hulle ook klaar gemaak.”
GEBEDHere Jesus, help my om nie nou swak te raak in die geestelike wedloop nie. Help my om klaar te maak, want dit is aan die einde van die dag wat saak maak. Help my Here om nie net klaar te maak nie, maar om sterk te eindig! Amen!
Piet Smit073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook
‘N MAN MET DIE NAAM PAULUS (8)
(My dierbare vriend, Japie Muller, skryf n.a.v. my reeksie oor Paulus)
Dis so interessant om 'n man se lewe so te ontleed. Ek wonder wat hy sou sê as hy dit self kon lees.
En tog was hy ook net mens. Hy wys die gemeentes daarop as hulle nalaat om aan sy behoeftes te dink en vir hom te voorsien nie, maar dan sê hy ook hy soek die vrug in hul lewe - en nie soseer die voorsiening vir homself nie.
Toe Markus hom op een sendingreis teleurstel, wou hy hom nie op ‘n volgende reis saamneem nie.
Hy het ook alleen gekry as sy metgeselle hom verlaat het. Toe hy Rome toe geneem is, skryf Lukas, dat toe hulle buite Rome by die Drie Herberge kom en ander gelowiges daar sien, het hulle God gedank en moed geskep. Jy skep mos net moed as jy moedeloos is.
Hy was ‘n gewone mens, ‘n besondere gewone mens!
Hy ontvang slae bo die maat. Ek meen - hoe voel 39 houe, geslaan oor jou kaal liggaam – op enige plek van jou hakskene af oor jou bene en oor jou lyf tot bo by jou skouers, terwyl jou liggaam uitgerek is sodat dit voel of elke spier skeur. Vyf keer is hy so geslaan tot op daardie stadium toe hy daaroor geskryf het. Hoe is hy nie dalk daarna nog geslaan nie!
Sy hart word week as hy gewaarsku word om nie na Jerusalem te gaan nie, want hy is “gewillig om daar te sterwe vir die naam van die Here Jesus.” Selfs daar toe die skip in die storm beland het, lyk dit nie of hy veel gepla was deur die storm nie.
As jy darem sy geskrifte lees - waarhede waarmee ons soms sukkel om die dieptes daarvan te ontgin - en moeilik vind om dit te preek sodat ons luisteraars dit verstaan. Diepsinnige waarhede en uitsprake waarop na 2000 jaar nog niks verbeter is nie.
Hierdie man wat ‘n vervolger van die gemeente was, ja, van Jesus self, skryf dat hy sy insig deur ‘n openbaring van Jesus Christus ontvang het. Die Here Jesus het self aan hom vertel hoe Hy ”in die nag toe Hy verraai is, brood geneem en dit gebreek het.” Hy was die eerste en ook die enigste wie die Here kon vertrou om die inhoud van die Nuwe Verbond bekend te maak. Ja, “die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is,” het God aan Paulus gegee.
Hy het verstaan om [1] dit wat in God se hart was voor die grondlegging van die wêreld, [2] dit wat God ingeweef het in die lewens van Abraham, Sara, Isak en Jakob en hul tydgenote [3] God se plan vir ons hier en nou en [4] dit wat in God se hart is vir die mens in die dispensasie hierna, van God te ontvang en te bewoord vir lering en inspirasie vir alle geslagte tot aan die einde.Hoe arm sou ons gewees het sonder sy geskrifte! Wat 'n rykdom is sy geskrifte nie!!
Daar was maar net een Paulus. Jesus se Paulus.
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



