@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Moet 'n mens 'n dag en 'n datum hê?

 

02-god-van-baie-kanse
MOET ‘N MENS ‘N DAG EN ‘N DATUM HÊ? (1)
Joh. 3:3 – “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Wat bedoel jy? Wat se dag en datum?

Ek bedoel: Het jy iewers in jou lewe jou hart vir Jesus gegee? Kan jy die geleentheid onthou? M.a.w. jy weet van die dag dat jy jou hart vir Jesus gegee het en dat jy nóú gered is. Dis veronderstel om die grootste moment in ‘n mens se lewe te wees, as die Here vir jou ‘n werklikheid geword het.Ek vra nie wanneer jy gedoop of wanneer is jy voorgestel en aangeneem is in jou kerk nie. Dis iets anders.

HOEKOM SO ‘N GELEENTHEID?

Jy sien, alle mense kom die wêreld binne as ‘n sondaar, selfs al is sy ouers gered. Dit vanweë die sondeval van ons oerouers, Adam en Eva. Hulle het as verteenwoordigend van die menslike ras gesondig en ‘n kloof gebring tussen God en mens. Hier lees ons dit in Rom. 5:12 – “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”

Dis soos wanneer die busbestuurder ‘n fout maak en oor die kant van die afgrond gaan en dan vat hy noodwendig al die ander passasiers van die bus saam met hom. Só het Adam ons almal saamgeneem oor die kant van die afgrond.

Ek weet van slegs twee gevalle in die Bybel waar mense hierdie wêreld reg binne gekom het nl. Jesus Christus die Seun van God en Johannes die Doper van wie ons lees dat hy reeds van die skoot van moeder vervul was met die Heilige Gees (Luk. 1:15). Verder kom ons almal verkeerd gebore die lewe binne. Kom ons bewys dit met nog ‘n paar tekste:
  • Job 14:4 – “Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine—nie een nie!”
  • Ps. 51:7 – “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”
  • Rom. 3:23 – “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”
As Jesus dan sê met ‘n eed: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Moet ons Hom regtig ernstig opneem! Dan móét daar iewers in jou lewe, benewens jou natuurlike geboorte, nog ‘n geboorte plaasvind. Dis wat die Bybel noem die wedergeboorte. Het jy dit?

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

MOET ‘N MENS ‘N DAG EN ‘N DATUM HÊ? (2)

Joh. 3:3 – “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Kyk, ons maak darem ‘n grootse ophef van ‘n nuweling se geboorte in die familie! Die ouers is bly, die oupa en ouma is nog blyer en die groot oupa en ouma is die blyste. Ons vier ons verjaarsdae. Vir ‘n 21ste verjaardag word die stadsaal gehuur en ons kry die dominee of die pastoor om ‘n preek te lewer en ‘n magtige gebed te kom bid. Die gaste bring geskenke, dra gelukwensinge oor en dit eet vir die vales.

Dít alles vir jou geboorte in die dood, want die gevolge van jou natuurlike geboorte is die dood. Ons gaan almal sterwe a.g.v. die natuurlike geboorte. Maar jou geestelike geboorte is jou geboorte in die lewe in. Met ‘n geestelike geboorte gaan jy vir ewig lewe (Joh. 5:24; 11:25)!

Baie jare gelede het ‘n vriend, Boxer Kotze, my genooi om saam met hom op die 16de Desember sy verjaardag in die Here te gaan vier. Ons is Riebeek se berg op en halfpad teen die berg het ons vleis gebraai en die dag in gebed deurgebring en die Here gedank en prys vir sy redding. Ek onthou sy woorde: “My wedergeboorte is baie meer belangrik vir my as my natuurlike geboorte.”

ANDER BELANGRIKE DATUMS

Hoe belangrik is jou trou datum? Bewaar jou siel as jy getroud is en jy jou eie huweliksherdenking vergeet! Vroulief of manlief sal jou hewig kapittel en die einde sal jy nie gou hoor nie! (Die invryf bediening.)

  • Ek onthou die dag wat ek die laaste vak in matriek geskryf het!
  • Ek onthou die dag wat ons aangemeld het by die Kasteel in Kaapstad vir militêre opleiding.
  • Ek onthou die dag dat ons uitgeklaar het!
  • Ek onthou die dag dat ek my bestuurslisensie geslaag het! (Eerste keer gedop.)
  • Ek onthou die dag dat ek klaar was op onderwys kollege!
Nou hoe is dit dat die dag wat ‘n mens die Here Jesus ontmoet as jou Verlosser, nie belangrik kan wees nie? Dis die belangrikste Persoon wat jy ooit kan ontmoet. Dis veronderstel om die belangrikste dag van jou hele lewe te wees, want dit bepaal of jy hemel toe gaan en of jy hel toe gaan! Sonder wedergeboorte kan jy die Koninkryk van God nie sien nie!

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

MOET ‘N MENS ‘N DAG EN ‘N DATUM HÊ? (3)

Joh. 3:3 – “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

KAN ‘N MENS GELEIDELIK ‘N CHRISTEN WORD?

Ek wil glo dat ‘n mens kan geleidelik nader kom na die dag wat jy jou hart vir Jesus gee. Die Here werk nie met ons almal dieselfde nie. Sommige mense het ‘n dramatiese ontmoeting met God waar die persoon as ‘n groot sondaar  of met ‘n harde hart of met vooroordeel in een oomblik deur die Here omgedop word soos bv. Saulus van Tarsus op die pad van Damaskus (Hand. 9). Ander egter word stadig maar seker sag gemaak vir daardie dag van oorgawe.

Tog praat Jesus van ‘n geboorte, die wedergeboorte wat moet plaasvind. ‘n Vrou wat moet kraam kan vir etlike ure in barendsnood verkeer maar tog is daar die oomblik dat die geboorte plaasvind. Dis nie ‘n tydperk van jare nie, dan is dit verseker ‘n dooie geboorte. Maar dis binne ‘n klompie minute en die babatjie is daar. Net so kan ‘n mens met God worstel tot op die dag en oomblik dat die oorgawe gemaak word en die Heilige Gees die wonderwerk van wedergeboorte in jou gees doen. Hoe lank neem ‘n oorgawe gebed? Dis ‘n kwessie van minute en jy staan van jou knieë af op (kan in enige posisie wees) gered en verlos! So ‘n mens het n.a.v. 2 Kor. 5:17 in Christus gekom en alles in jou gees het nuut geword!

Daar is nie sprake dat ‘n babatjie kan groei alvorens die geboorte nie plaasgevind het nie. So ook kan ‘n plantjie tog nie groei voordat dit nie ontkiem het nie. So is dit ook met wedergeboorte. Alvorens ‘n mens nie weergebore is nie, kan daar nie regtig geestelike groei plaasvind nie. Sonder wedergeboorte is mense se geestelike handelinge en om gaan met die Bybel en kerk besoeke bloot godsdienstige rituele, sonder dat hulle gered is.

Moenie ‘n gevoel soek nie, soek die Here Jesus -  ‘n bewustelike oorgawe aan Hom. Tog is dit net wonderlik hoedat mense dikwels van die wonderlikste ervaringe getuig wat na die Here kom. Op ‘n Saterdagmiddag aan die begin van die jaar het ek en my vrou mense bedien wat bevry wou word. Die dame ken dwelms, want sy het dit al dikwels gebruik. Na sy haar hart vir Jesus gegee het en ons vir haar gebid het, was haar woorde: “Dis die wonderlikste gevoel wat ek nog in my hele lewe gehad het – wonderliker as die ‘high’ wat dwelms bied!”

GEBED

Jesus, wonderlike Jesus, groot en magtig is U om te red en te verlos elkeen wat na U in opregtheid kom!!! Amen!

Epos Inval Gedagte Bediening

Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

MOET ‘N MENS ‘N DAG EN ‘N DATUM HÊ? (5)

Joh. 3:3 – “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Ek onthou die omstandighede soos gister. Ek was in my derde jaar op Onderwys Kollege in die Paarl. Een van die vierdejaars, Bernard Smith, het my genooi om daardie aand saam met hom te bid. Sy doel was om die studente selektief in die koshuis te nooi om saam met hom te bid totdat daar herlewing in die koshuis sou wees. Die herlewing het nooit gekom nie, maar prys die Here, een ou is gered en dit was ek! Daardie aand het die Heilige Gees my oortuig dat hierdie man het iets wat ek nie het nie. Hy ken God op sy voornaam!

Later alleen daardie aand in my kamer het ek voor die bed gekniel en so opreg as wat ek kon, my sonde bely en Jesus in my hart in genooi. Terwyl ek so bid, het ek vir die eerste keer in my lewe ervaar dat die Here my sonde vergewe en my Sy kind maak! ‘n Sekerheid wat ek vir geen mens kan beskryf nie het van my besit geneem! Met nederige dankbaarheid bely ek dat Meimaand vanjaar (2011) sal dit 34 jaar wees dat die Here Jesus my gered het!

As jy enigsins onseker is of jy so ‘n dag en gebeurtenis in jou lewe het, dan wil ek jou help. Kry dan vir jou so ‘n datum en daar is nooit ’n beter een as vandag, want môre kan te laat wees. Die Woord leer (Heb. 3:15): “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.” Wil jy nie nou, iewers op ‘n geskikte plekkie, die volgende gebed uit jou hart bid, in geloof en in opregtheid tot ‘n lewende God wat alomteenwoordig is en almagtig is om jou te red:

OORGAWE GEBED

Hemelse Vader, ek kom na U, want ek wil so graag U kind wees. Vergewe my deur die bloed van die kruis al my sonde:

  • Alles wat ek verkeerd gedoen het;
  • Alles wat ek verkeerd gesê het;
  • Alles wat ek verkeerd gedink het;
  • Alles wat ek versuim het om te doen deur die jare.
Ek vergewe alle mense wat my te na gekom het en my verneder het en seer gemaak het. Want as ek nie vergewe nie, kan U my ook nie vergewe nie. Ek breek met bewustelike sonde en alles van die duiwel. Ek draai my rug daarop om agter U aan te loop. Ek glo dat Jesus op die kruishout ook vir my gesterf het en met Sy bloed vir al my sonde betaal het. U Woord sê: Al was julle sonde soos skarlaken dit sal wit word soos sneeu en al was dit rooi soos purper dit sal wil word soos wol (Jes. 1:18). U Woord leer verder: As ons, ons sonde bely dan is U getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtighede te reinig (1 Joh. 1:9). In geloof aanvaar ek nou dat U my sonde van my verwyder so ver soos wat die ooste verwyder is van die weste (Ps. 103:12).

Here Jesus, nou nooi ek U om in my lewe in te kom deur U Heilige Gees. Ek bied U die troon van my hart. Word van hierdie dag af die Stuurman van my lewensbootjie. Skryf my naam in die boek van die lewe (Open. 20:15). Leer my en help my om kort rekeninge met U te hou; as ek per ongeluk sondig, om dit dan dadelik te bely en aan te gaan met U.

Nou prys ek U dat U my gebed gehoor en verhoor het. Ek aanvaar dat ek nou U kind is! Lei my, leer my en maak Uself vir my ‘n werklikheid. Ek bid dit in Jesus Naam. Amen!

Skryf nou jou datum voor in jou Bybel sodat dit jou altyd kan bybly en dit jou kan herinner en help as die vyand jou wil versoek. As jy verdere hulp nodig het, moenie skroom om my te kontak nie.

Ek voel gedring om net nog een ietsie vir jou te vra: Gaan lees asb. vir Fil 1:6.

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit 
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Moet 'n mens 'n dag en 'n datum hê?
schoemans-chartered-accountants die-courant