Ons het almal met groot verwagting uitgesien na die eerste dag van 2012. Ons gemeente sou daardie dag nie kerk hê nie weens ons Midderdagdiens. As gesin sou ons vleisbraai en my skoonseun en oudste dogter en skoonpa en skoonma sou ook by wees.
Met mag en mening help ek druk en trap, maar sowaar die skerp pen wil net nie ingaan nie: “Nee man, hy moet net in, hy’t nie ‘n keuse nie,” sê ek. Die volgende oomblik steek die pen dieper in die grond en uit dieselfde gat spuit daar ‘n straal water met ‘n hewige fors! Onmiddellik besef ek, ons het ‘n waterpyp onder die grond raak gesteek … en dit op ‘n groot vakansie dag waar al wat winkel en plek verseker toe is. Ag nee, nie dit nie, hoe nou gemaak? Ek het nie die toebehore om die pyp te las nie en al wat winkel is, maak eers die Dinsdag oop. Die loodgieter in ons gemeente is op Langebaan met vakansie en om nou vir hom te gaan steur, is onbillik. Daar is dus vir ons geen ander keuse as om die stopkraan toe te draai nie.
“Ai, waarom moet dit nou op só ‘n dag gebeur?” maal dit in my binneste. As jy wil hande was, is daar nie water nie. As jy wil badkamer toe gaan; geen water nie. Om te dink op die hele grasperk moet ons nou die pen dáár gaan indruk! Die pyp is 22 mm dik en om te dink dis nou net mooi dáár dat ons die pen moet gaan indruk.
Maar ek besef, kalmte is nou die ding wat nodig is. Om nou my vrede te verloor is nie tot eer van die Here nie. In geloof en in oorgawe aan ons Here Jesus, skud ek elke omgekrapte gedagte van my af en braai met oorgawe. Ons geniet die heerlike vleis en spys en mekaar se geselskap. Ons gaan slaap selfs na die middagmaal.
Toe ons daar op staan, kniel ek by die bed en doen die tweede deel van Fil. 4:6 – “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Onmiddellik toe ek begin bid, kom die buurman by my op. Vandat buurman opgedaag het; 15 minute, toe is die las gemaak en alles oor! Loof die Here!
Die teenoorgestelde sou wees: Jy verloor jou vrede. Jy’s kwaad vir almal en alles en ontstig almal om jou en bederf jou eie en hulle dag. Maar toe ek vrede kies, toe is vrede daar …
Die huishulp het vir die tannie op Vanrhynsdorp gesê: “Vat vrede missies!” Vandag sê ek ook vir jou: “Vat vrede in die Here, my broer! Vat vrede my suster!”
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



