Van tyd tot tyd gebeur daar dinge op moedertjie aarde wat die hele mensdom tot stilstand dwing en almal laat stilsit voor die televisie skerms. So het die redding van die 33 mynwerkers vanuit ‘n toegevalde mynskag in Chile almal se aandag gevang. Om te dink daardie mynwerkers moes vanaf 5 Augustus tot 12 Oktober 2010 nagenoeg 700m onder die grond oorleef. Geen wasgeriewe, vars kos en vars lug.
Wat my getref het, is die onderhoud met ‘n sielkundige toe sy min of meer iets soos volg sê: “Hulle kon dit maak en oorleef, omdat hulle as ‘n groep daar onder vasgekeer was. As ‘n mens alleen daar onder moes bly, sou dit baie swaarder gewees het. Maar as groep het hulle mekaar aangemoedig en net al ander se teenwoordigheid as groep, gee hoop.”
Dit bevestig maar net weer die groot waarheid van die Woord: God se metode om dit te maak as gelowiges in hierdie sondige en antagonisties gesinde wêreld, is en bly, die gemeente – jou mede broers en susters. Wanneer jy gered word uit die sondige sisteem van die wêreld, voeg God jou by Sy kudde en dis daar dat jy omring word met mede gelowiges (1 Kor. 12:13), wat op dieselfde pad is as jy en met basies presies dieselfde behoeftes en probleme te kampe het as jy. Almal het dieselfde strewe om vir die Here te lewe en diensbaar te wees en uiteindelik tog hemel toe te gaan. Dis dan net wonderlik dat ons mekaar kan aanmoedig op ons reis na die hemel. Soos wat jy vir ander ‘n aanmoediging is, stig jy jouself en help dit jou om te oorleef en dit te maak.
Hierdie beginsel sien ons deurgaans in die Woord: Woel met ‘n ander ou se siel en jy self groei en word gevoed.
- 1 Tim. 4:6 – “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ‘n navolger geword het.”
- 1 Tim. 4:13 – “totdat ek kom moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering ... (vers 16) ... deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”
Wanneer ek saam met mede atlete byeen kom as Atletiekklub, het ons een ding in gemeen nl. ons hardloop almal en daar “boost” ons mekaar om aan te hou ongeag beserings, die swaar om vroeg soggens op te staan ens.
Die waarde om dinge in groepsverband te doen is fenomenaal. Só die gemeente waar ons almal saam stry vir die geloof ( Jud. 1:3). Dis baie dwaas om te poog om die hemel te haal sonder ‘n gemeente; baie wys as jy maar net sal doen wat die Woord leer.
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



