Miskien sou jy so graag wou, maar om een of ander rede is dit nie vir jou moontlik nie. Vandag wil ek jou sommer net saam vat. Dalk doen hierdie vir jou meer as ‘n diep Bybel boodskap. Uitstaande van die afgelope maand, is die klim van Kasteelberg saam met drie broers in die kerk die 19de Februarie.
Ek het altyd die berg so van ‘n afstand bekyk en gedink: “Ag, dis seker nie eens die moeite werd om die berg te gaan klim nie; dis mos sommer net ‘n ou koppietjie.”
Wel, so is ons vroeg die Saterdagoggend berg toe en het begin aanstap op die voorgeskrewe roete. Die roete kronkel skuins teen die berg uit. Ons verstom ons oor die mooi landskap wat onder ons uitgestrek lê. Maar iewers verloor ons die paadjie wat party plekke baie dof is. Toe besluit ons, ons gaan sommer reguit boontoe klim. Maar dit was ‘n groot fout, want die berg is baie ruig en die plantegroei ken geen genade met die manne wat met ‘n kortbroek gaan klim het nie. Dis styl en daar is los klippe. Ek self het eenslag lelik grond gekoop. Loof die Here, ek het nie berg afgeval nie. Sommige plekke moes ons kruip en ander plekke klim jy jouself vas en moet jy weer omdraai en dit alles teen ‘n baie skuins helling. Genadiglik het ons dit gemaak en uitgeput op die kruin aangekom. Wat ‘n gesig en panorama lê alle kante toe uitgestrek! Aan die oostekant lê Riebeek Kasteel reg onder ons aan die voet van die berg en aan die westekant die afgesnyde koringlande van die Swartland na Malmesbury se kant toe en Tafelberg onder wolke gehul. Die skoon lug, die stilte, die ongerepte natuurskoon, die uniekheid van die oomblik was vir my oorweldigend. Ek was so van die Here se teenwoordigheid en nabyheid bewus, meer as van enigiets anders. In Ps. 55 praat Dawid van ‘n wegvlug plekkie. Hier is nou die ideale wegvlug plek ...
Ek het o.a. ‘n foto geneem waar ‘n waboom vanuit ‘n soliede rots groei! My laat dink aan die Rots, Jesus Christus waarop Jesus Sy kerk bou (Mat. 16:18).
Maar die grootste les van die dag: Bly op die pad – op die voorgeskrewe roete. So het die Bybel ook ‘n pad vir die kind van die Here. Om daarvan af te wyk is fataal. ‘n Ander pad is soos ‘n ander Jesus en ‘n ander evangelie wat nie kan red nie en nie eindig in die hemel nie.- 2 Kor. 11:4 – “Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het.”
- Gal. 1:6 – “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe.”
Bly op die pad van die Here – al lê jy ook op die pad! Daar is maar net één regte pad! As daar ‘n beter een was, dan sou dié ook daar geloop het waar die regte pad loop.
Epos Inval Gedagte BedieningPiet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



