Hierdie twee gevalle bevestig dit net weer: Elke mens is ‘n individu en hy of sy kies self wie en wat hy of sy wil wees.
Normaalweg speel die omgewing (eksterne faktore) ‘n rol in hoe ‘n kind eendag gaan uitdraai. As die ouers ‘n bepaalde lewenstyl handhaaf, is die kanse baie goed dat die kinders dieselfde pad gaan loop. Tog hoef niemand noodwendig die slegte voorbeeld van sy of haar ouers te volg nie.Manassa, was die seun van koning Hiskia. Hiskia, was ‘n goeie koning wat die Here baie mooi gedien het. Miskien kan jy die geval onthou waar hy na die tempel is en die dreig brief van die koning van Assirië in diepe afhanklikheid voor die aangesig van die Here gaan uitsprei het (2 Kon. 19:14). Die voorbeeld wat Manassa van sy vader gekry het, was nét goed. En tog word hy een van die goddeloosste konings wat Juda ooit gehad het! Hier is ‘n aanhaling uit 2 Kon. 21:9 – “Manassa het hulle (volk) verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdelg het.”
My troos aan ouers wat hulle kinders in die vrese van die Here groot gemaak het, maar die kinders dien nie die Here nie: Moenie julleself verwyt of skuldig voel oor julle kinders se gedrag nie. Ja, dis jammer dat hulle afgewyk het van die voorbeeld van julle as die ouers, maar besef; elke mens is ‘n individu en hy of sy kies self die pad wat hulle wil loop.
Josía, daarenteen het ‘n vader gehad (Amon) wat die Here hoegenaamd nie gedien het nie. Hier is ‘n aanhaling uit 2 Kon. 21:20 – “Hy (Amon) het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here,”
Vers 21 – “Hy het geheel ... die drekgode gedien wat sy vader gedien het en hom voor hulle neergebuig.”
Maar Josía word een van die goeie konings van Juda. In sy tyd is die wetboek in die huis van die Here gevind onder al die rommel met al die afvalligheid wat voor sy tyd plaasgevind het. Maar toe hy dit lees, het hy sy “klere geskeur” (2 Kon. 22:11) en hom tot die Here bekeer en met hervormings begin en een van die goeie konings van Juda geword. Lees net hierdie pragtige aanhaling oor sy lewe (2 Kon. 23:25): “En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.”
Jy hóéf nie die swak voorbeeld van ander om jou te volg nie. Jy hóéf nie in die modder te bly sit nie. Staan op en skud die slegte dinge van jou af in die Naam van die Here en volg Jesus in alle opregtheid!
GEBED
O Here, wat ‘n voorreg om te kan kies! Ek kies vír U! Ek kies vandag om te vergeet wat agter is en vir die res van my lewe saam met U te stap! Amen!Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



