Die ma sê aan haar seun: “Hier is ‘n baie belangrike les vir jou my kind in die lewe. Jy moet alles eet, maar jy hoef nie alles te weet.”
Hoe waar dan die woorde in Pred. 7:21 – “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie.”
As die president van die land alles moes hoor elke dag wat die publiek van hom sê, sal hy verseker ‘n senu-ineenstorting kry. Maar gelukkig is hy volwasse genoeg om nie luisterapparate in elke huishouding in die land te laat installeer om elke dag te sit en luister na wat daar van hom gesê word nie. En sou hy selfs enkele van die negatiewe dinge hoor, sal ‘n persoon van sy statuur hom beslis nie steur aan elke Dick, Tom en Harry se gemor nie.
Ons kan maar ‘n les neem van die president.
Iemand vertel my van die onlangse gesprek met die sakeman wat by die gastehuis instap waar sy werk. Hul begin gesels en die gesprek gaan draai by die huidige finansiële wêreldsake van die dag. Dan sê die man:
§ “Die dinge wat sleg is vir my besigheid, hoor ek nie.
§ Die geld-tekort in wêreld hoor ek nie.
§ Ek kyk daarna asof dit niks met my te doen het nie. Want jy sien, ek glo die Here seën my en my besigheid. My besigheid se omset het die afgelope 18 maande, elke maand verhoog!”
Rom 4:19 – “En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.”
Abraham, die vader van die gelowiges het presies dieselfde gedoen. Hy’t doelbewus nie gelet op al die negatiewe dinge nie. Ek en jy sal doodgaan van ellende as ons op al die negatiewe nuus en berigte en stories wat hul elke dag die rondte doen, moet fokus!
§ Die beste plek om my en jou oë te fokus is op wat Heb. 12:2 sê: “Die oog gevestig op Jesus …”
§ Die beste plek om my en jou ore te fokus is op die influisteringe van die Heilige Gees. Joh. 16:13 – “alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Ma’s is baie slim. Ons kan maar luister …
Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Ook in Engels beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272



