Heb. 12:1 – “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,”
Wanneer die skoot klap en die atlete hardloop, is daar niemand wat die wedloop vír jou kan hardloop nie. Net jy alleen. Jy bepaal self hoe vinnig jy dit gaan hardloop. Selfs as jy wil rus is dit jou saak. Selfs as jy wil ophou is dit óók jou saak.Die selfde vryheid het ons ook in die geestelike wedloop. Jy bepaal self hoeveel jy vir die Here gaan insit. As jy ook wil ophou en jou onttrek om agter Jesus aan te loop, is dit ook jou saak.
Die eerste keer wat ek aan ‘n half marathon deelgeneem het, was dit my voorneme: Al sterf ek ook, maar ek sal nie loop nie. So onfiks soos ek daardie dag was, het ek my voorneme gestand gedoen. Ek het regtig gevoel ek gaan dood, en gedink: “As ek maar net so ‘n paar tree kan loop om weer my asem terug te kry. Kyk net hoeveel ander is daar wat loop, sal ek nie ook maar ...” Maar ek het gevoel soos Jefta in Rig. 11:35 – “Want ek het my mond geopen teenoor die HERE, en ek kan nie terugtrek nie.”
Ek onthou die keer wat daar ‘n byna orkaan sterkte wind gewaai het op Wellington met die Safari Half Marathon. Jy kry die wind reg van voor teen ‘n bult en jy is klaar so moeg dat jy kan sterwe. Maar steeds was my voorneme dieselfde as met die eerste half marathon.
In die geestelike wedloop kan ‘n mens ook die wind van voor kry. Ja, soms voel dit dat dit nie net ‘n wind van voor is nie maar daar is ook nog ‘n steil bult wat jy moet uitgaan. Mens kan ook nie help om die vele te sien wat uitgesak het in die geestelike wedloop. Groot is die versoeking om dan ook maar oor te slaan na die rat van die gemaklikste pas.
Die volgende tekste dien my en jou dan tot waarskuwing en aanmoediging:
• Luk. 9:62 – “En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”
• Heb. 10:38 – “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.”
Struikelblokke is onvermydelik (Luk. 17:1), maar om tou op te gooi is opsioneel. Winston Churshill het sy volk gedurende ‘n laagtepunt tydens die Tweede Wêreld Oorlog aangemoedig met hierdie bekende woorde: “Never give up! Never give up! Never, never, never, give up!”
Dus, liewe kind van God, al het ons die keuse om op te hou in die geestelike wedloop, sál ons nie ophou nie!
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën
wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



