@ at Malmesbury Business Directory

at-malmesbury-business-directory-logo

search-google 

Hy wat ag gee op die arme.

Dit was die Sondagaand van 3 Maart 1996. Ek was nog besig om voor te berei vir die aanddiens, toe ek gewaar daar kom ‘n rondloper die stoep opgestap wat die deurklokkie lui. Ek is maar net eerlik as ek sê, ek was nou regtig nie lus vir daardie man nie. Dis net voor preek tyd en ek was nog nie behoorlik voorberei vir die diens nie. Toe ek gaan oopmaak, kyk ek vas in ‘n man so vuil dat jy nie met ‘n tang aan hom kon vat nie.

So op die punt om hom sommer weg te jaag, neem iets van my hart besit en ek nooi hom in en sê: “My vrou sal vir jou gou ‘n klompie toebroodjies gaan maak en nog ietsie daar by en jy kan ‘n bad neem op voorwaarde dat jy na die aanddiens sal kom.”

My vrou het probeer om die stomme man se klere te was, terwyl hy bad, maar die sokkies was so vol gate dat sy dit moes weggooi. Sy het van my klere en onderklere vir hom gaan haal en vir hom ‘n sak met klere en kos gepak.

Die diens was al aan die gang toe ek van vooraf sien daar agter in die kerk kom die man met sy winkelsak die kerk binne gesluip en neem heel agter sy plek in.

Uiteindelik is die diens verby en almal is huis toe en ek en my gesin is weer alleen in die pastorie om ietsie saam te eet. Ek onthou ek was baie moeg en vaak en kon amper nie meer regop staan nie. Ek het verskoning gemaak om te gaan slaap. Amper te moeg om te lees en te bid, het ek voor die bed gekniel. Volgens my Bybellees kalender moes ek daardie aand vir Ps. 41 lees. Maar ewe skielik is die vaak en moeg weg! By die aanskouing van die woorde, voel ek hoedat my keel toetrek en ek hoedervleis kry! Lees nou vir jouself wat daar staan:

Ps. 41:2 – “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.”

Ps. 41:3 – “Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.”

Ps. 41:4 – “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.”

Kan jy jou indink as ek daardie aand daardie man, koue skouer gegee het en ek lees daardie teks aan die einde van die aand! Ek sou daar opgespring het en in die strate na hom gaan soek het en vreeslik bely het: “Ag Here, ekskuus – ek het ‘n vreeslik fout gemaak!”

Winter kom aan. Laat ons let op die behoeftige en arme, want kyk net na die beloftes van God vir hóm, wat ag gee op die arme!

 

Epos Inval Gedagte Bediening
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Ook in Engels beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook by http://www.facebook.com/group.php?gid=45835613272

You are here: Church Hy wat ag gee op die arme.
schoemans-chartered-accountants die-courant