(Japie Muller)
Ek wonder soms of ons nie ‘n wanbegrip het oor die plek wat die hemel in ons begrip van die geloofslewe moet inneem nie.
Soos enige persoon wat belang stel om ander mense vir die Here te wen, het ek deur die jare met talle mense gepraat oor hulle verhouding met die Here, die werklikheid van God, die lewe na die dood, die hemel en die hel, ens.. Dan sou ek in die verloop van so ‘n gesprek vrae vra soos: “Hoekom moet ‘n mens gered word? Hoekom het Jesus na die aarde toe gekom? Hoekom moet ‘n mens die Here Jesus aanneem?”, ens. - vrae om die persoon se insig oor hierdie gewigte sake te toets. Dan is dit verbasend hoe baie mense antwoord: “Sodat ek hemel toe kan gaan.” So baie mense het al in eerlikheid vir my gesê: “Weet jy, ek dink nie as ek nou moet sterf, sal ek hemel toe gaan nie.” Dan sê ek: “Vergeet eers van die hemel. Jou verhouding met God is nie reg nie!”
Ek dink ons vergeet ‘n baie belangrike waarheid, en verskraal sodoende die heilsboodskap. Hoe wonderlik die hemel ook al is / sal wees, “hemeltoegaan” bly steeds ‘n byproduk van ons verhouding met God. [Net so, is om hel toe te gaan ‘n byproduk van ‘n verkeerde verhouding met God.] Per slot van sake sal ons ook nie die “hele” ewigheid in die hemel deurbring nie. Dalk bring ons nog die “grootste deel” van die ewigheid op die Nuwe Aarde deur in die Nuwe Jerusalem.
Voor die sondeval was die mens in ‘n volmaakte verhouding met God. Deur sonde is daardie verhouding verbreek. Squire Parsons het ‘n liedjie geskryf:
“When I couldn’t go to where He was, He came to me.” Die enigste manier hoe daardie gebroke verhouding herstel kon word, was dat God Self moes kom mens word, en as “die mens Jesus”, die prys vir die mensdom se sondes betaal, om hom sodoende te herstel dat hy weer in die regte verhouding tot God kan staan. God se primêre doel met die koms van Jesus, Sy lewe, Sy dood, Sy opstanding, Sy hemelvaart en tans Sy Hoëpriesterlike werk, was / is om die verhouding tussen Homself en die gevalle mens te herstel, sodat hy die mens weer kan kry in gemeenskap met Hom, [d.w.s. in die regte verhouding met Hom] soos Adam en Eva in die regte verhouding met Hom was voor die sondeval.
Ek glo dus ‘n mens neem die Here Jesus aan as jou Verlosser, sodat Hy jou kan red, sodat die verhouding tussen jou en Hom herstel kan word. Dit is wat redding is. Redding is nie in die eerste plek ‘n kaartjie hemeltoe nie. Die basis van God se koninkryk is verhouding. En dit word verskraal, wanneer mense oorwegend van die hemel en die hel bewus gemaak word, wanneer saligheid ter sprake is. In Sy groot liefde, reik God na elke mens toe uit – om in die eerste plek die verhouding tussen Hom en die mens te herstel.
Selfs in die baie goeie EE 3 kursus, leer hulle jou om vir die sondaar te vra: “Het jy al in jou geestelike lewe op dié plek gekom, dat jy verseker weet, dat as jy vandag te sterwe kom, jy hemel toe sal gaan?” Ek weet dit is ‘n eenvoudige en duidelike vraag wat sondaars seker die maklikste kan verstaan, maar selfs hierin word die indruk geskep: “Ek moet my dinge hier regkry, sodat ek hemel toe kan gaan.” Of: “As ek verkeerd lewe, dan mis ek die hemel.” Saligheid gaan in die eerste plek nie om ‘n plek nie, maar om ‘n Persoon – die Here Jesus Christus!!
The Pearl of Great Prize is nie die hemel nie – dis die Here Jesus.
Die beloning waarna elke Christen in die eerste plek behoort uit te sien, is nie die hemel nie – dis ‘n ewige verhouding met die Here Jesus. Niks is wonderliker hier op aarde nie en niks sal wonderliker “aan die ander kant” wees, waar dit dan ook al sal wees nie.
Eleanor Riley het ‘n liedjie oor die hemel geskryf wat o.a. deur Jimmy Swaggart gesing is:
If the walls are not jasper and the streets are not gold,
If the mansions will crumble and if folks still grow old;
Still I’d see everything my heart longed to see,
for if Jesus is there, it will be heaven for me.
Piet Smit
073 447 2902
(K) 022-4872200
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Elke vraag / respons sal vertroulik hanteer word. As jy voel hierdie boodskappe kan vir ander tot seën wees, voel vry om dit aan hulle te stuur en moedig hulle aan om persoonlik in te teken op hierdie gratis bediening. Engelse vertalings is ook beskikbaar. Besoek AGS Corpus Christi Malmesbury op Facebook



